Waar hoort daai sebratjop? Op jou braai!

Is jy gereed om sebravleis deel te maak van jou Saterdagmiddagbraai?

‘n Studie deur veekundiges aan die Universiteit van Stellenbosch toon dat sebravleis ideaal is vir verbruik.

Sebravleis is ‘n aanwins vir ons dieet aangesien dit van die maerste vleis ter wêreld is, met ‘n gemiddeld van 0.5g vet per 100g en hoë vlakke van proteïen, sink, yster, vitamien B12 en omega-3-vetsure.

Maar die belangrikste van als is daai broodnodige proteïen.

Wetenskaplikes aan die universiteit het gesê die nuwe bevindinge kom namate die regering sy finale afrondings aan Suid-Afrika se nuwe wildvleisstrategie aanbring, het Business Insider berig.

Die strategie is daarop gerig om die bedryf – wat deur rooibokke, springbokke, koedoes, wildebeeste en blesbokke oorheers word – te formaliseer, transformeer en uit te brei.

Angelique Myburgh, ‘n student aan Stellenbosch Universiteit, het besef dat daar nog min navorsing oor sebras as voedselbron gedoen is. Sy het haar studie met die hulp van dosent Helet Lambrechts en die destydse hoof van Stellenbosch se departement veekunde, Louw Hoffman, van stapel gestuur.

Volgens die navorser het die diere wat in die winter geoes is, meer proteïen opgelewer – waarskynlik weens seisoenale verskille in dieet en voergedrag.

Sy het bygevoeg dat, behalwe vir ‘n goeie opbrengs van gesonde vleis, daar ook ander faktore in sebras se guns tel.

Hulle is fisiologies en gedragsgewys aangepas om in semi-droë toestande met lae kwaliteit voer te oorleef. Die diere is ook goeie kandidate vir boer met gemengde spesies.

“Hulle kan teen hoër veedigthede gehandhaaf word as herkouers van soortgelyke grootte, in graslande met swak voedingsgehalte,” het sy gesê.

Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing het in Julie ‘n konsep-wildvleisstrategie gepubliseer wat aandui dat sebras 4.4% van Suid-Afrika se wildbevolking beslaan.

En as jy sebravleis by jou dieet wil voeg, kyk bietjie na hierdie pryse, op sy webwerf gelys deur ‘n slagter wat sebravleis in KwaZulu-Natal verkoop: R105/kg vir goulash, R110/kg vir sebra steak, en R190/kg vir filet.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: ‘n Sebra se vleis maak vir lekker braai

Beeldbron: Kariega-wildreservaat