Deur Buziwe Nocuze
Chaos het Maandag by Laerskool Inkanini uitgebreek nadat die voorsitter van die beheerraad gekeer het dat die skoolhoof die perseel betree.
Die magstryd tussen die twee woed sedert ’n insident verlede jaar, toe die voorsitter, Andile Lili, glo die skoolhoof geklap het.
Lili, ook ’n ANC lid van die Weskaapse wetgewer, is vir die klappery by die polisie aangegee, en sal weer op 27 Januarie voor die hof verskyn.
Die skoolhoof is Maandag skool toe om seker te maak alles sal vandag, die eerste skooldag van die jaar, gereed wees. Dit is toe dat Lili haar voorgekeer en verhinder het om in te gaan.
Sy optrede het die gemeenskap woedend gemaak en hulle het protes aangeteken.
Kelebogile Maboyana, ’n ouer, het gesê Lili boelie die skoolhoof nou al veels te lank, en hulle gaan dit nie meer duld nie.
“Hy dink hy is die hoof, en kan die regmatige hoof uithou. Sy is deur die Onderwysdepartement aangestel, en sy is die baas,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.
Maar Lili is onder die indruk dat die ouers die beheerraad steun. Hy het gesê: “Ons het die hoof laasjaar weggejaag omdat sy onbevoeg is. Sy skeer nie al haar personeellede oor dieselfde kam nie.”
Hy het die skoolhoof daarvan beskuldig dat sy ’n familielid aangestel het, en toelaat dat hy laat inkom, glo omdat hy saans DJ is.
“Ons kan nie daardie soort optrede goedpraat nie. Dis ook ’n leuen dat ek haar geklap het. Ek het nie my hand vir haar gelig nie. Ek wil haar in die hof sien. Sy het ’n saak teen my gemaak, en ons moet daarop fokus.”
Bronagh Hammond, segspersoon vir die Weskaapse Onderwysdepartement, sê Lili was verkeerd om die hoof uit te sluit. “Dis nie die beheerraad se reg nie,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.
Op foto hierbo: Ouers buite Laerskool Inkanini in Kaapstad teken protes aan teen die voorsitter van die beheerraad se optrede
Fotobron: Buziwe Nocuze