Deur Thathe Msimango
Die Suid-Afrikaanse langafstandatleet Collen Malaudzi kry ’n tweede kans om internasionale roem te verwerf, nadat ’n karongeluk in 2018 verhinder het dat hy sy land by die Afrika-Veldloopkampioenskappe in Algerië verteenwoordig. Daar is destyds baie van hom verwag.
Nou is hy terug in die kalklig as lid van ’n sterk span wat deur Atletiek Suid-Afrika gekies is om aan die Wêreld-Veldloopkampioenskappe in Bathurst, Australië, deel te neem. Die aksie begin op 18 Februarie.
Die span sluit die Suid-Afrikaanse 5km-rekordhouer Elroy Gelant in, asook die veelmalige nasionale veldloopkampioen Precious Mashele en die voormalige SA 1 500m-kampioen Ryan Mphahlele.
“Ek is bly om deel van die span te wees,” het die 31-jarige langasem van die Hollywoodbets Atletiekklub gesê.
Malaudzi is een van die voorste hardloper wat maandelik geldhulp van hulle klubs ontvang.
“Ek droom al baie lank daarvan om my land in veldloop te verteenwoordig,” het hy gesê. Ná die karongeluk het hy besluit om terug te veg totdat hy sy droom bewaarheid. “Ek is bly dit gebeur nou.”
Malaudzi, wat deur die beroemde Michael Seme afgerig word, sê Suid-Afrika se span is goed genoeg om sterk teenstanders soos Oeganda en Kenia aan te durf.
“Ek wil nie te veel druk op die ouens sit nie, maar ek glo ons gaan vir die eerste keer ’n atleet hê wat onder die voorste deelnemers eindig, ,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.
“Ons het ’n gebalanseerde groep, wat ook in die spankompetisie ’n prys kan wen. Ek gaan dit geniet sonder te veel verwagtinge of onnodige druk. Maar ons berei goed voor en ons is op dreef.”
Op foto hierbo: Collen Malaudzi
Fotobron: Verskaf