Deur Everson Luhanga
’n Keniaanse man beweer die wederkoms het plaasgevind en hy is die Messias – wat water in tee kan verander.
Die man, Mwalimu Yesu wa Thangole, sê hy is op ’n hemelse sending as gesalfde van God, wat hom aangesê het om die evangelie wêreldwyd te verkondig.
Die selfaangestelde Messias sê hy is die ware Jacob – of eerder, die ware Jesus – wat gekruisig is en opgestaan het. Anders as tydens sy eerste besoek 2 000 jaar gelede het hy hierdie keer besluit om te trou en agt kinders te verwek.
“Ek is Jesus. Baie mense vra of ek die ware Christus is, en ek bevestig dit. Jesus is nie tot een land beperk nie, Hy is daar vir die hele wêreld,” het hy in ’n onlangse onderhoud met Afrimax verklaar.
Sy sogenaamde wonderwerke het groot skares en toegewyde navolgers na sy kerk in die dorp Bungoma gelok.
Hy het onlangs die seën uitgespreek by ’n bruilof, waar hy water in tee verander het. Die bruilofgangers sou waarskynlik wyn verkies het, soos destyds
Net soos die Jesus van die Bybel het Mwalimu Yesu 12 dissipels, elk na ’n lid van die eerste dosyn vernoem. Mens wonder of die hedendaagse Judas baie vriende het.
Die dissipels se klede bedek hulle van kop tot tone. Hulle kniel en aanbid die selfgekose profeet wanneer hy uit die Goeie Boek voorlees.
Voordat sy volgelinge ’n kerkdiens in Mwalimu se pragtige kerk mag bywoon, moet hulle ’n ander gebou binnegaan en hulle sondes bely.
“Ek is vas oortuig hierdie man is Jesus. Hy genees en doen wat hy beloof,” sê een van sy navolgers.
“Siekes kom hierheen, op die rand van die dood, maar Jesus tree altyd in en hulle word gesond,” het sy vrou bygevoeg.
Hierdie Jesus bly weg van die bottel, maar gee hom oor aan die verloklikhede van die vlees. Dit het sover agt nasate tot gevolg gehad.
Hy haal Openbaring 21 vers 9 aan om dié stand van sake te verduidelik.
Die versie lui: “En een van die sewe engele het hulle tot my gewend, met die sewe kruike wat die laaste sewe plae bevat, en tot my gespreek: ‘Kom na my toe, sodat ek die bruid van die Lam aan jou kan openbaar.’”
Die selfgekose Christus beweer “Die bruid van die Lam” bewys hy is geregtig op ’n lewensmaat – en om voort te plant.
Dit is nie die eerste keer dat ’n Keniaan beweer hy is Jesus Christus nie. ’n Pastoor in die klein dorpie Kitengela het in 2019 gesê hy het Jesus raakgeloop en dié man as die Seun van God aan sy gemeente voorgestel.
In Suid-Afrika het Moses Hlongwane van KwaZulu-Natal in 2013 beweer hy is Jesus, wat deur God gestuur is om die aarde te dien en te red.
Op die foto hierbo: Mwalimu Yesu wa Thangole, die selfverklaarde messias, word deur sy volgelinge aanbid.
Fotobron: @serious_mulla