Deur Doreen Mokgolo
Vir die meeste Suid-Afrikaners is beurtkrag ‘n yslike ongerief. Vir Jenny Moloto is dit lewensgevaarlik.
Haar lewe hang af van ‘n elektriese suurstofsilinder wat haar help om asem te haal.
Die 67-jarige van Pimville in Soweto is gediagnoseer met sarkoïdose – ‘n seldsame toestand wat haar longe aangetas het.
Die pensioenaris is sedert verlede Junie uitsluitlik afhanklik van eksterne suurstoftoevoer, en intussen het haar gesondheid nog verder verswak.
Die naweek, tydens die hoogtepunt van fase ses beurtkrag met tussen agt en 10 uur daagliks sonder elektrisiteit, het Jenny nie toegang tot haar suurstoftoevoer gehad nie.
Die pensioenaris het gesê dat haar woonarea nie elektrisiteit gehad het van 4:30vm tot 8nm nie – amper 16 ure – wat haar gedwing het om haar die suurstofsilinder in te span wat sy net tydens noodgevalle gebruik.
“Vir 10 uur kos dit my R400 om die silinder te hervul. Ek moet dan ’n verskaffer bel om ‘n nuwe vol silinder af te lewer,” het sy gesê.
Jenny se dogter, Mpho Rammile, het gesê hulle kon nie die verskaffer in die hande kry nie weens die swak selfoonopvangs wat ook deur beurtkrag veroorsaak word.
“Ons moes ons buurt verlaat om ontvangs te probeer kry om ‘n SMS te stuur, sodat die suurstofsilinder by die huis afgelewer kon word.
“Toe ons uiteindelik gedink het hulp is op pad, het die verskaffer in die verkeer vasgesit weens verkeersligte wat ook geraak is,” het sy bygevoeg.
Sy het gesê gedurende hierdie tydperk het haar ma gesukkel om asem te haal, en sy het haarself dus op die ergste voorberei.
Mpho het gesê met die aanhoudende beurtkrag en bespiegelings dat hulle dalk fase 8 mag bereik, sy vrees dat sy haar ma gaan verloor.
“Soos dinge nou loop, sukkel ons om die R400-hervulling te bekostig. Tydens fase 6 beurtkrag het ons twee suurstofsilinders nodig. Hoe gaan ons hierdie stand van sake oorleef?
“Is daar iemand in die parlement wat vir ons omgee, wat die uitdagings verstaan waardeur gewone burgers geraak word weens beurtkrag?
“Ander mense kan hul elektriese toestelle vervang wat deur beurtkrag beskadig is. As my ma sterf, sal ek nie haar lewe kan terugkoop nie,” het sy bygevoeg.
Op die foto hierbo: Jenny Moloto
Fotobron: Verskaf