TikTok-ster Giddes Chalamanda kóók nog op 93

Deur Everson Luhanga

Giddes Chalamanda het Sondag 93 geword, maar die Malawiese musieklegende se tunes gee sy fans nog die ritteltits van lekkerkry.

Chalamanda, alombekend as Agide, ’n eerbewys én ’n afkorting van sy naam , maak al 81 jaar lank musiek. Hy het begin toe hy 12 was, maar moes wag tot sy negende dekade voor hy wêreldroem verwerf het met sy groot treffer, “Linny”, wat hy al 23 jaar gelede die eerste keer opgeneem het.

“Linny” het laasjaar opslae op TikTok gemaak as deel van ’n skommeltune saam met die jong ster Patience Namadingo. Die song is miljoene kere op TikTok opgeroep.

Die song het ook vir Chalamanda vertonings regoor Suider-Afrika losgeslaan, onder  meer in sy tuisland, asook Suid-Afrika, Zambië en Mosambiek. Hy het Suid-Afrika verlede jaar platgetoer en fans in Johannesburg en Kaapstad se voete laat jeuk.

Ná sy sukses kon hy een van sy drome laat waar word. In “Linny” sing hy: “If I only had money, I would travel to America” – en dis presies wat hy onlangs gedoen het!

Kunstenaars uit verskeie lande het hulle eie skommeltunes aanmekaargeklap, uit waardering vir die song, wat tot die siel van sy luisteraars spreek.

“Linny” is opgedra aan sy dogter met dieselfde naam, wat hy loof vir haar liefdce en gehoorsaamheid.

Op sy 92ste verjaardag was Chalamanda en die Linny van vlees en bloed eregaste by die Malawiese Staatshuis in die hoofstad Lilongwe, met  President Lazarus Chakwera as gasheer. Die president het die  musieklegende met ’n trofee en verjaardaggeskenk beloon.

Chalamanda is ook in November verlede jaar met ’n Maso-toekenning vir sy jarelange prestasies vereer.

Foto bo: Giddes Chalamanda.

Fotobron: Malawi24