Deur Lucky Maree
Engeland skop Eddie Jones uit as afrigter en die Nieu-Seelander Dave Rennie kom nie die mas op as Wallaby-breier nie nie. Is enigiemand verras dat Dave op sy agterent uitgeskop word om vir Eddie plek te maak?
Jones het die Wallabies van 2001 tot 2005 afgerig, en in 2003 tot in die eindstryd om die Wêreldbeker geneem, waar hulle teen Engeland verloor het; ’n span wat as een van die allerbestes beskou word, met die legendariese Martin Johnson as kaptein.
Rennie het die leisels by Michael Cheika aan die einde van 2019 oorgeneem, agt maande voor die rugby se spogtoernooi. Australië kon daardie jaar net vyf van sy 14 toetse wen,=
Daar was gerugte dat Jones hom by die Wallabies se ondersteuningspan sou aansluit. In watter rol kon niemand raai nie. Rennie het verlede week die storie dat hy en Jones saam sou werk as snert afgemaak.
“Dit gaan nie gebeur nie,” het hy botweg gesê.
Die meeste afrigters raak uitgekuier en Jones se sitvlak begin vinniger jeuk as wat met die meeste van hulle die geval is. Maar hy is ook daarvoor bekend dat hy sukkelende spanne woerts-warts in wenners kan omskep.
Australië het van die beste spelers in die wêreld, wat nou al te lank ver onder hulle vermoë presteer, en hulle is honger vir groter welslae. Nie net is Jones waarskynlik die een man wat hulle tot hoër hoogtes kan aanvuur nie, maar met die Wêreldbeker net agt maande weg, is die tydsberekening dalk in die kol.
Ondertussen is Frankryk, die een span wat stabiel gelyk het in ’n stormagtige pylvak voor die Wêreldbeker, geskud deur ’n korrupsie-skandaal waarby Bernard Laporte, die land se rugbybaas, betrokke is.
Hy is ’n opgeskorte vonnis van twee jaar in die tjoekie opgelê – en Frankryk bied vanjaar die Wêreldbeker aan.
Dit lyk asof Laporte ’n borgskap vir die nasionale span se rugbytruie bekonkel het ten gunste Mohed Altrad, die miljarder-eienaar van die Top 14-kampioenspan, Montpellier.
Foto bo: Die tuindwergie giggel al die pad bank toe. Eddie Jones skouer Dave uit die pad
Fotobron: Andy Rain / EPA