Deur Doreen Mokgolo
’n Twee-en-twintigjarige vrou Duduza, Ekurhuleni, wat aan’n geestesgestremdheid ly, is laas Donderdag deur vier mans ontvoer en verkrag.
Die slagoffer was te voet op pad huis toe van haar mansvriend af toe die vier verdagtes haar vasgekeer het. Hulle is aan haar bekend.
Hulle het haar na ’n verlate huis in die gebied geneem, wat gebruik word as skuilplek vir misdadigers en as bergplek vir gesteelde goedere.
Hulle het haar na bewering met alkohol bedwelm en herhaaldelik deur die loop van die nag verkrag.
Die slagoffer se oom, wat nie by name genoem kan word nie om die slagoffer se identiteit te beskerm, het gesê die familie het bekommerd geraak toe hulle haar nie kon opspoor nie.
Hy het gesê sy is vroeër in die dag saam met haar mansvriend gesien. Hy is ook geestesgestremd.
“Hy het vir ons gesê sy is by hom weg net nadat beurtkrag ingeskop het, en was op pad huis toe. Getuies het ook vir ons gesê hulle het haar in die rigting van haar huis sien stap.
“Ons het deurnag gesoek, maar ons kon haar nêrens kry nie.”
Hy sê die slagoffer het teen die oggens verward en getroumatiseerd tuisgekom met geskeurde klere.
Sy het haar skokverhaal met die familie gedeel, wat haar dadelik na die polisie en hospitaal toe geneem het, waar bevestig is dat sy verkrag is.
Die oom het gesê almal in die gebied weet sy is geestesgestremd, en sy is vriendelik teenoor almal.
“Die boosdoeners het van haar toestand misbruik gemaak, en gedink sy sou nie onthou wat met haar gebeur het nie. Hulle moet opgesluit word,” het hy gesê.
Duduza polisie se segsvrou, Sersant Nothando Mahlangu, het bevestig dat hulle ’n saak van verkragting en ontvoering ondersoek.
“Die vier verdagtes is vasgetrek in sal in die landdroshof op Nigel verskyn,” het sy gesê.
Nomasomi Limako, ’n menseregte-aktivis wat namens gestremdes optree, eis geregtigheid vir die slagoffer.
“Vroue wat met gestremdheid leef, veral geestesgestremdheid, word misbruik en verkrag omdat booswigte glo hulle sal nie hulle verhaal aan die polisie kan oordra nie, en dat die saak uit die hof gegooi sal word.
“Ons sal veg totdat die oortreders regmatig gevonnis word,” het sy gesê.
Mahlangu het gesê misdaad skiet die hoogte in tydens beurtkrag, veral snags, wanneer alles in donkerte gehul is.
“Ons vra inwoners om veiligheidsmaatreëls te tref en nie saans alleen te stap nie,” het sy gesê.
Foto hierbo: Twee van die verdagtes is saam geboei nadat hulle in hegtenis geneem is
Fotobron: verskaf