Tweede asem: Marathon-veteraan kry geldkontrak op 47

Deur Thathe Msimango

Ultramarathon-veteraan Solicitor Manduwa het die eerste professionele kontrak van sy loopbaan geteken – op die gevorderde ouderdom van 47.

Ná ’n reeks skittervertonings onder die vaandel van die Phatane-Atletiekklub, het hy ’n eenjaarkontrak by Intsika-Atletiekklub losgeslaan.

Manduwa het verlede jaar verras deur agtste te kom in die Comrades Marathon, in ’n tyd van 05:46:10. Hy is die oudste atleet in die geskiedenis van dié gevierde ultra-wedloop wat ’n plek onder die eerste tien – en daarmee saam ’n goue medalje – kon loshardloop.

Manduwa, wat verlede jaar 16de in die Twee Oseane-Marathon was, sê vir hom is ouderdom net ’n nommer.

“Ek is bly Intsika het vir my ’n kontrak aangebied. Ek moet sê, dit beteken baie vir my. Uiteindelik gee mense my erkenning vir my prestasies,” het hy aan Scrolla.africa gesê.

“Ek het nogal gedink klubs gaan my handtekening soek nadat ek goed in die Comrades gevaar het. Dis die grootste ultra-wedloop in die wêreld, en dis spesiaal om die rekordboeke te haal.”

Manduwa, oorspronklik van Malawi, se loopbaan het eers in sy dertigs begin. Hy was daartoe aangetrokke nadat hy hardlopers sien oefen het terwyl hy sokker speel.

“Ek was ’n goeie sokkerspeler. Die veld waarop ons geoefen het, het ’n atletiekbaan gehad, so atlete het altyd soontoe gestroom,” sê Manduwa, wat as masjienoperateur werk.

“Ek het myself afgevra wat my sou keer om te begin hardloop.”

Hy het Willie Mtolo, ’n voormalige wenner van die New York-Marathon, gevra om sy vaardighede te slyp.

“Ek het in 2011 begin hardloop maar dit eers in 2019 ernstig opgeneem toe ek sien ek kan meeding.”

Met die jare wat aanstap, het die inwoner van Pietermaritzburg gedink hy kan nog vinniger hardloop.

“Ek fokus op myself en wat ek die beste kan doen. Ek oefen saam met jong ouens, maar ek probeer nie teen hulle pas hardloop nie. Ek wil eerder elke dag beter word,” het hy gesê.

“Die goeie ding van my is dat ek gesonde kos eet, met baie groente en vrugte. Ek dink dit maak ’n groot verskil. Ek bly ook superfiks,” sê Manduwa. Hy drink baie water, wat ook help om sy loopbaan te verleng.

Foto bo: Solicitor Manduwa

Fotobron: verskaf