Toeriste is gek na Khoisan-aktiviste

Deur Karabo Rammutla

Die Koisan-aktiviste voor die Uniegebou het dalk nog nie die regering se aandag getrek nie, maar hulle is ‘n onverwagse aanloklikheid vir toeriste.

Die aktiviste het 2019 in Pretoria aangekom nadat hulle nagenoeg 1000 km uit die Ooskaap afgelê het.

Hulle dring onder meer daarop aan om as eerste burgers van Suid-Afrika verklaar te word; dat ‘n deel van die land aan hulle toegeken word, wat hulle kan bewoon soos ander etniese groepe in die land, en dat hulle tale by die lys amptelike tale van die land gevoeg word.

Die regering ignoreer hulle nou vier jaar lank – maar nou kry die aktiviste aandag van vakansiegangers.

Wanneer gidse hul pakkette adverteer, sluit hulle ‘n besoek aan die Khoisan-nedersetting op die Uniegebou se gronde in.

Die Khoisan, in lendeklede van diervel, kan gewoonlik gesien word waar hulle saam met toeriste vir foto’s poseer en wys hoe die nedersetting daar uitsien.

Die toeriste belemmer allermins die Khoisan se politieke doelwitte, maar help eerder dat hulle die protesaksie volhou.

‘n Daggaplant- en groentetuin is by die nedersetting gevoeg en dit lyk asof die inwoners nêrens heen gaan nie.

Koning Khoisan SA, die leier van die aksiegroep, sê die toeriste befonds hulle oorlewing.

“Sonder hulle vrygewigheid sou ons krepeer het,” het hy gesê.

Maar hy sê hulle het nie vergeet waarom hulle by die Uniegebou is nie.

“Ons is hier om protes aan te teken,” het hy gesê.

‘n Toergids, Gerda van Zyl, het gesê toeriste gee positiewe terugvoer oor die Khoisan-nedersetting.

“Hulle is opgewonde om inwoners van Afrika kaalvoet en in lendeklede te sien. Hulle sê dis die Afrika wat hulle verwag om te sien, en hulle sal hulle vriende na ons verwys,” het sy gesê.

Philomena Harris van Indiana in die VSA het gesê sy het waardevolle lesse by die Khoisan geleer.

“Hulle leer ons hoe om ‘n band met Moeder Aarde te vorm en minder van die aarde weg te neem. Ek dink as ons almal soos hulle gelewe het, sou die meeste van ons probleme verdwyn het. Hulle het my besoek aan Suid-Afrika verryk,” het sy gesê. 

Foto onder: Koning Khoisan SA saam met Amerikaanse toeriste by die Uniegebou.

Fotobron: Karabo Rammutla