“Ndavi het die hele Afrika gedra – dít is ‘n oorwinning”

Deur Nkhensani Mthombeni

Toe die VSA se R’Bonney Gabriel Sondag in die vroeë as Mej Heelal 2022 gekroon is, het miljoene Afrikane se harte gebreek vir Mej Suid-Afrika, Ndavi Nokeri.

As die enigste verteenwoordiger van Afrika in die Top 16 was haar familie egter nie bekommerd omdat sy nie gewen het nie; hulle harte het geswel van trots.

“As ouer broer is ek baie trots. Ndavi het baie goed gevaar. Sy het ons familie en Suid-Afrika baie goed verteenwoordig,” het haar broer Nyiko gesê.

Nyiko en sy vrou, Nkateko Nokeri, het aan Scrolla.Africa gesê hulle het wakkergebly regdeur die kompetisie, wat regstreeks vanaf 3vm Sondagoggend Suid-Afrikaanse tyd uitgesaai is.

Die kompetisie is by die New Orleans Morial Konvensiesentrem in Louisiana in die VSA gehou. Die Suid-Afrikaanse skoonheid het teen 84 ander koninginne van regoor die wêreld meegeding.

Ndavi het die topdrie net-net misgeloop, met Venezuela se Amanda Dudamel wat as die eerste naaswenner aangewys is en Andreina Martinez van Dominikaanse Republiek, die tweede naaswenner.

“Ek voel asof Mej Heelal nog nie gereed was vir die soort leierskap wat Ndavi uitstraal nie,” het Nyiko gesê.

Intussen het Nkateko gesê Ndavi het tot die einde toe geveg, aangesien sy haarself goed in die kompetisie gedra het en haar selfvertroue op die verhoog gesien kon word.

“Ndavi het die hele Afrika gedra, dit is ‘n oorwinning vir ons,” het sy gesê.

Nkateko het uitgesien na Ndavi se volgende kompetisie en die land aangemoedig om hom weer agter haar te skaar.

“Die reis gaan voort terwyl ons voorberei vir die volgende kompetisie, Mej Supranasionaal. Suid-Afrika, maak gereed om te stem en om haar weer die storie van die dag te maak.”

Ndavi se ouers, Pastoor Moses en Betty Nokeri, is in die VSA om hul dogter te ondersteun.

Pastoor Moses was vol dankbaarheid toe hy die hele Suid-Afrika bedank het, “dienaars van God” wat vir haar, familie en vriende gebid het.

“Dankie dat julle ons liewe intelligente en pragtige dogter ondersteun,” het hy aan die publikasie gesê.

Op die foto hierbo: Mej Suid-Afrika Ndavi Nokeri

Fotobron: verskaf