Deur Buziwe Nocuze
Hope vullis het eens op ‘n tyd soveel plek van die deurpad ingeneem dat kinders op pad skool toe moes toustaan voordat hulle daarlangs kon hardloop.
Daar was bietjie van als in die rommel, van babadoeke tot dooie diere – en springlewendige rotte.
Nou het Gugulethu-gemeenskapslede die deurgang tussen twee huise van ‘n onwettige stortingsterrein in ‘n skoon wandelpad omskep. Hulle noem dit Ithemba (“hoop”).
Kaapstadse aktivis Xolile Ndzoyi het gesê Nobantu Primêr-leerders gebruik die weg as ‘n kortpad skool toe.
“Die gemeenskap het opgeruk en begin om die gebied skoon te maak omdat dit gevaarlik was – nie net vir skoolkinders nie, maar vir enigiemand anders wat die area gebruik,” het Xolile gesê.
“Rommel het opgehoop en die kinders is gedwing om tou te staan. Ons kon nie agteroor sit en kyk hoe dit gebeur nie.”
Xolile het gesê mense wat langs die deurpad bly kon nie hul vensters of deure ooplos nie weens die ondraaglike reuk.
“Ons het die wandelpad Ithemba genoem, omdat dit vir die mense van Gugulethu hoop gee,” het hy gesê.
“Ons sal die name van mense wat ‘n rol in Kaapstad en die wêreld gespeel het op die muur laat pryk. Ons sal inspirerende aanhalings van bekende mense insluit, met hul gesig en land van herkoms. Ons wil hê die plek moet toeriste lok.”
Hy het gesê almal het ‘n nare storie om oor die stortingsterrein te vertel – en dis ook nie die enigste een nie. Mense word aangemoedig om onwettige stortingsterreine skoon te maak en op te hou wag dat die regering dit doen.
“Ons moet saamwerk met geesdriftige mense wat ‘n positiewe benadering het, en het voorstelle gemaak oor hoe om gemors in geld te omskep.”
Nandipha Ngece het nie geglo dat ‘n stortingsterrein omskep kon word in die pragtige deurloop wat dit vandag is nie.
“Jong mense stop nou om foto’s te neem. Ons sal die plek skoonhou. Ons sal nooit weer toelaat dat iemand rommel daar strooi nie,” het Nandipha gesê.
Op die foto hierbo: Xolile Ndzoyi staan in die deurpad wat hulle skoongemaak het nadat dit as onwettige stortingsterrein gebruik is – die gemeenskap loop nou onbedreig hier en neem pragtige foto’s
Beeldkrediet: Buziwe Nocuze