MET LIEFDE UIT LIMPOPO: Hoe lank speel kinders al die speletjies diketo en moruba? Thabiso Sekhula maak ’n wonderlike ontdekking.
Ek het hierdie week my familie, vriende en internetvriende ingespan vir ’n klein toetsie. Ek wou uitvind hoeveel hulle weet van die inheemse speletjies wat ons gespeel het toe ons klein was.
My eerste vraag was of hulle hierdie twee speletjies ken – diketo en moruba. Al die mense wat ek gevra het, ken die speletjies en 60% sê hulle het dit kleintyd gespeel. Hulle is baie gewild en die meeste van ons het wonderlike herinneringe aan eenvoudiger tye toe hulle ons dae gevul het.
In diketo gooi ’n speler ’n klip wat “mokinto” genoem word in die lug, en probeer soveel klippies as moontlik uit ’n gat opraap voordat hulle die mokinto met een hand vang. Dan sit hulle die klippies een vir een terug in die gat.
Niemand kon my tweede vraag beantwoord nie, en dit is nie hulle skuld nie. Selfs Google kan nie help nie. Die vraag is: hoe oud is hierdie speletjies?
Wikipedia sê albei speletjies het in Limpopo ontstaan, wat waar is, sover ek kon vasstel, maar verskaf geen tyd of aanduiding van hulle ontstaan nie. Een artikel raai dit was vroeg in die vorige eeu, maar daar is soveel wat ons nie weet nie.
Ek was onlangs in Mapungubwe Nasionale Park, waar ek het vir die eerste keer die Mapungubwe-Heuweltoer meegemaak het. Die leidraad na die ontstaan van die speletjies is dalk opgesluit op die heuwel, saam met die geskiedenis van die Shashe-samekoms tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana. Dis waar die koning en koningin van Mapungubwe begrawe lê, en waar die berugte goue renosterstaf gevind is, beklee met ivoor en ingevoerde krale.
As jy die storie van Mapungubwe ken, weet jy die koningkryk het sy hoogtepunt bereik sowat 1 000 jaar gelede. Verbeel jou my skok toe ek, in klip gegiet, op die heuwel op ’n plek afkom waar moruba en diketo gespeel is.
Die klip in Mapungubwe is sag, so die fondasies vir hulle hutte is daaruit gekap. En so ook die speletjies. Tyd kon nie die bewys van die speletjies uitwis nie.
Toe ek my ontdekking pos, het mense oraloor Afrika vertel hoe hulle die einste moruba-speletjie in hulle lande gespeel het, al die pad tot in Tanzanië.
Een verduideliking sou wees dat die speletjies en die kultuur regoor Afrika versprei is teen die einde van die Mapungubwe-koningkryk, toe die mense om onbekende redes uitmekaargedryf het. Wat ’n wonderlike ontdekking.
Op die foto hierbo: Kinders wat diketo speel
Beelbron: Wikimedia