Linda Ximba
Geliefd en verloor: Gerrie Coetzee (1955-2023)
Gerrie Coetzee, wat Donderdagaand in sy huis in die Weskaap dood is ná ’n kort kankerstryd, se naam is opgeteken as die eerste Suid-Afrikaanse bokser wat ’n wêreld-swaargewigtitel kon wen.
Coetzee, wat as die “Boksburg Bomber” bekend was, het wêreldroem behaal toe hy Leon Spinks – die enigste bokser wat ’n titel by Muhammad Ali kon afneem – in die eerste ronde uitgeknikker het, in ’n titel-uitdungeveg.
Hy het met sy derde poging wêreldkampioen geword, ná twee onsuksesvolle gevegte om die Wêreld-Boksvereniging (WBA) se kroon, teen “Big” John Tate in 1979 en toe teen Mike Weaver in 1980.
Coetzee het Tate voor 80 000 toeskouers gepak in een van die grootste gevegte in Suid-Afrika se boksgeskiedenis, maar het op punte verloor ná 15 moordende rondes.
Hy was wyser en sterker toe hy op 23 September 1983 teen Michael Dokes deur die toue klim. Dokes was die volslae gunsteling, maar hy het hom in die tiende ronde teen Coetzee se uitklopkrag vasgeloop.
Daarna sou Coetzee teen Larry Holmes, die Wêreldboksraad (WBC) baklei om die titels te verenig, maar planne het telkens deur die mat geval.
Hy het die WBA titel by Sun City verloor met ’n uitklophou in die agtste ronde. Sy kamp het gekla dat die ronde ’n minuut te lank aangehou het. Dis waar, maar Page was duidelik die beste bokser op die aand.
Coetzee het weer tot eerste aanspraakmaker gevorder, maar die Brit Frank Bruno het hom in die eerste ronde uitgeslaan en sy titelkanse beëindig. Sy latere terugkeerpoging het misluk.
Sy geveg teen Schutte veel vroeë in sy loopbaan word tot vandag toe gereken as een van die vuilstes wat hier te lande gesien is. Schutte was die skuldige. Toe Coetzee se houe op hom neerrëen, het Mike elke reël in die boek verbreek. Die geveg is stopgesit toe hy ’n skop in Gerrie se rigting loods.
Na sy uittrede was Coetzee kortstondig vegknoper, onder meer vir SA se dubbele wêreldkampioen, Dingaan “Roos van Soweto” Thobela.
Foto bo: Gerrie Coetzee in aksie
Fotobron: The Mirror