Daar’s ‘n slang in my sop!

Verskeie kinders is in die hospitaal opgeneem nadat hulle Maandag tydens middagete by Laerskool Mandalpur in Indië lensies geëet het uit ‘n pot wat slang as verrassingsbestanddeel bevat het.

Skoolkinders by Laerskool Mandalpur in die stad Birbhum het Maandag begin olik voel ná die slang-kooksessie.

Verskeie leerders is na die Rampurhat Mediese Kollege-hospitaal gehaas, vanwaar almal later blosend gesond ontslaan is, het NDTV berig.

Volgens die amptenare het sowat 20 van die 53 leerlinge wat teenwoordig was, die middagmaal geëet wat by die skool voorsien is deur die regering.

Die skokkende ontdekking het plaasgevind toe ‘n skoolpersoneellid, wat verantwoordelik was vir die middagete se voorbereiding, ‘n klein slangetjie gewaar het onder in die pot waarin die lensies gekook is.

Nadat hulle siek geword het is al die kinders onmiddellik na die Rampurhat Mediese Kollege-hospitaal geneem, het die personeellid gesê.

Skoolhoof Nimai Chandra het gesê twee vroue was verantwoordelik vir die kook van die maaltyd.

“Die slang is opgemerk terwyl die lensies bedien is. Een of twee van die kinders het dit pas in hul monde gesit. Toe die kokke die slang sien, het hulle almal gevra om op te hou eet,” het die skoolhoof gesê.

Die nuus het blitsig versprei. Nadat dorpsbewoners by die skool bymekaargekom het, is die skoolhoof se motors gevandaliseer. 

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Die slang in die lensiepot

Beeldbron: NDTV