Kuns red Mncedisi uit dwelmhel

Deur Khaya Ndaba

Die Oosrandse kunstenaar Mncedisi “King” Nkosi het die kettings van dwelmmisbruik en depressie afgeskud en ’n gewilde visuele kunstenaar geword.

Die 29-jarige Nkosi, van Springs in Ekurhuleni, teken hoofsaaklik uiters lewensgetroue portrette in houtskool op papier.

“Ek het by ’n versekeringsmaatskappy gewerk, maar hulle het in 2018 uit die bloute hulle kantore van Springs na Bedfordview geskuif,” het hy gesê. Hy was werkloos.

“Ek het vasgevang gevoel. Niemand het mense aangestel nie en ek het nie geld gehad om te kan oorleef nie. Ek het by dwelms betrokke geraak. Ek was depressief en in die dwelms se kloue. Gelukkig het ek op my kuns teruggeval en dit het letterlik my lewe gered.”

Al hoe meer mense herken nou sy werk en hy kry elke maand tussen ses en tien portretopdragte. Vriende en familie verprei die woord. Hy maak ook van sosiale media gebruik om nuwe klante te werf.

Op die vraag wat sy lewenspad en die goeie en swaar jare hom geleer het, het hy gesê: “Kuns het my die waarde van geduld geleer. Tydens die Covid-inperkings het ek gesukkel om geld te verdien, maar my vriende en familie het my aangemoedig om vas te byt en aan te hou.”

Ná die inperkings kon hy weer op dreef kom. “Nou kyk ek net vorentoe,” sê hy.

Hy mik daarna om ’n ateljee te open, waar hy kunswerke sal skep en verkoop, en die waarde van kuns as ’n geneesmiddel met voornemende kustenaars wil deel.

Foto bo: Mncedisi Nkosi en sy kuns

Foto-bron: Khaya Ndaba