Boris se paartie was toe ’n groepswoeps

Sommige van die voormalige Britse Premier Boris Johnson se assistente het mekaar glo uiters intiem leer ken by ’n partytjie wat hy die aand voor Prins Philip se begrafnis by sy ampswoning, 10 Downingstraat, gehou het – te midde van streng Covid-inperkings.

Verskeie getuies het twee paartjies by dié jolliepatrollie sien kefoefel. Een het by ’n donker kantoor ingesluip, het The Times hierdie week berig. Die partytjie het tot vieruur die volgende oggend aangehou, met die land nog in rou oor die prins se afsterwe.

’n Ander paartjie het mekaar oop en bloot in ’n kombuis bevoel en bevroetel voordat hulle ook ’n bietjie privaatheid in ’n donker kantoor opgesoek het, aldus The Times. Hulle was wildgeklop toe hulle later uitkom.

Een partytjieganger het kiekies met ’n kitskamera geneem en ander het foto’s op Instagram gepos. Dié is eers later verwyder, nadat die eerste stories van die partytjies aan die lig gekom het. Gaste was besorg dat die foto’s inkriminerende bewysstukke teen hulle kan wees.

Dit was toe onwettig om binnenshuis te kuier. Samekomste was slegs om werksredes toegelaat.

Hierdie onthullings kom te midde van ’n ondersoek wat dié week hervat is om vas te stel of die skandaalmagneet Boris vir parlementslede gelieg het oor onwettige partytjies tydens die Covid-pandemie.

Die alewige opskoppe by 10 Downingstraat tydens die inperkings het tot Johnson se ondergang gelei, nadat sy mede-parlementslede in die Konserwatiewe Party moeg geraak het vir die nimmereindige skandale.

Johnson en sy vrou, Carrie, asook die huidige Eerste Minister, Rishi Sunak, het straf vrygespring vir hulle oortredings van die Covid-reëls, terwyl werkers by 10 Downing boetes opgelê is.