Blitskonstabel Omanyala laat boewe sidder

Deur Dylan Bettencourt

Booswigte in Kenia kan in die toekoms daarvan vergeet om te voet op die vlug te slaan. Ferdinand Omanyala, die vinnigste man in Afrika, het hom as polisiekonstabel bekwaam.

Meer as 2 800 konstabels het hierdie week by die Nasionale Polisiekollege in Nairobi gegradueer by ’n seremonie waarvan President William Ruto aan die hoof gestaan het.

Een gegradueerde het figuurlik gesproke bo die ander uitgetroon. Omanyala, wat gewoond daaraan is om die voortou te neem, het sy mede-konstabels by die seremonie ingelei.

Die rekrute het die basiese polisie opleidingskursus voltooi. Dit sluit vakke in soos gemeenskapsbeskerming, menseregte, wapenvaardighede, onlusbeheer, en teenstand teen gewelddadige ekstremisme, volgens die Nasionale Polisiediens.

Omanyala sal sekerlik sy spoed inspan om wet en orde te handhaaf. Misdadigers word aangeraai om eerder in vinnige karre weg te jaag wanneer hy aan diens is. En selfs dan sal hulle op hulle hoede moet wees vir die 27-jarige sneltrein.

Omanyala het in September 2022 die Afrika-rekord in die 100m opgestel in ’n tyd van 9.77 sekondes. In Junie van dieselfde jaar het hy die tweede Keniaanse Afrika-kampioen in dié nommer geword.

Foto bo: Omanyala word as konstabel ingelyf

Fotobron: @Ferdiomanyala