Deur Buziwe Nocuze
Mense in Langa staan bankvas agter die twee lede van die Langa Safety Patrol (LSP) wat in hegtenis geneem is op aanklag van moord.
“Patrol”, soos die LSP alom bekend staan, is ’n buurtwag wat oor dié township waak, baie kere op trapfietse.
Die twee LSP-lede, onderskeidelik 32 en 33, is die afgelope Dinsdag vasgetrek en van moord aangekla.
Frederick van Wyk, segsman vir die Weskaapse polisie, sê hulle is in hegtenis geneem in verband met ’n aanval op ’n persoon wat later in die hospitaal dood is. Dit het op 3 Januarie gebeur.
Die LSP is bekend daarvoor dat hulle vermeende boewe vang en foto’s van hulle, soms dik geslaan, op hulle Facebook-blad pos, saam met ’n skulderkenning vir hulle “sondes”. ’n Lid van die gemeenskap, wat naamloos wil bly, sê misdaad het afgeneem nadat die buurtwag drie jare gelede geskep is.
“Patrol kry meer gedoen as die cops, en ons vertroue hulle meer. Ons gaan hulle in hierdie moeilike tye ondersteun,” het die persoon vir Scrolla.Africa gesê.
Van Wyk het gesê: “Die polisie in Langa ondersoek ’n moordsaak, en twee verdagtes is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hulle sal in die Bishop Lavis landdroshof op bogenoemde klagtes verskyn.”
Langa se stasiebevelvoerder, Kolonel Ronald Jacobs, het lede van die gemeenskap gewaarsku dat hulle nie die wet in eie hande moet neem nie, want hulle sal vervolg word.
Maar ’n gemeenskaplid het gesê, “Ons wil hê die manne van die Patrol moet vrygelaat word, want hulle het baie vir ons gedoen. Ons polisie is nutteloos en jaloers op die werk wat die Patrol doen.”
’n Ander persoon het gesê hulle sal ’n opmars na die polisiestasie doen as hulle moet.
“Die polisie laat ons lankal in die steek. Misdadigers het gedoen wat hulle wil omdat hulle geweet het hoe vrotsig die polisie was voordat die Patrol gekom het.”
Hy het gesê hulle gaan ’n petisie optrek vir die vermeende moordenaars se vrylating, en hulle wil hê die persoon wat die saak aangegee het, moet skoert – familie en al.
Toe Scrolla.Africa die voorsitter van die LSP, Bandile Gcuwa, genader het vir kommentaar het hy gesê, “Met alle respek, dis alles leuens, maar ons kan nie op die oomblik met die media praat nie.”
Foto hierbo: Lede van die Langa Safety Patrol in Langa, Kaapstad
Foto verskaf.