Doodkiste raak drupsgewys tjokkeblok

Deur Everson Luhanga

Die polisie in Malawi het ‘n doodskisverkoper gearresteer wat besig was om die binneaarse drupsakke te ontkoppel van cholerapasiënte in Limbe – ‘n klein nederstetting in Blantyre, die land se kommersiële kern.

Die verdagte is geïdentifiseer as die eienaar van ‘n doodskiswinkel langs die cholerakamp.

Inwoners het die man, wat nie by naam genoem is nie, Maandag vasgevat nadat hulle hom gedurende die naweek dopgehou het.

Die cholera epidemie in die land het gesondheidsfasiliteite en versorgers laat bontstaan. Die regering is gedwing om tydelike skuilings op te rig om die groeiende getalle pasiënte te huisves en te behandel.

Dit is waar die man se ondernemingsgees ingeskop het: hy het glo by die kamp ingesluip om pasiënte se druptoestelle te ontkoppel, sodat meer mense sy doodskiste sou koop.

Een van die verpleegsters by die Limbe-gesondheidsentrum het aan Scrolla.Africa gesê daar was verwarring onder verpleegkundiges nadat hulle drupsakke gevind het wat van hul pasiënte ontkoppel is.

“Ons het mekaar begin beskuldig van hierdie onmenslike daad,” het sy gesê.

“Maar ons het besef ons is almal professionele mense wat nie sulke goed kan aanvang nie. Ons het toe ‘n lokval gestel, wat leiers van die gemeenskap ingesluit het.”

Sy sê die man is vir twee dae dopgehou terwyl hy die kamp binnegaan en vir pasiënte vertel dat hy ‘n gesondheidswerker is wat die werking van die druptoestelle nagaan.

Wanneer hy by die kamp aankom, het hy mediese handskoene gedra. “Ons weet nie waar hy daardie handskoene gekry het nie. Die polisie en gesondheidsbeamptes sal dit ondersoek.”

Die verpleegster het bygevoeg dat sommige pasiënte wie se druptoestelle verwyder is weens ontwatering gesterf het, terwyl andere net betyds gered is.

Tot dusver het 21,522 positief getoets en is in verskillende kampe regoor die land opgeneem; 716 mense het sover aan cholera beswyk.

Op die foto hierbo: Die naamlose doodskisverkoper wat daarvan beskuldig word dat hy cholerapasiënte se drupsakke ontkoppel het

Beeldbron: @zodiakonline