Doreen Mokgolo
Terwyl die land se leerders Woensdag terugkeer skoolbanke toe, mag die hekke van Matshidiso Spesiale Skool moontlik gesluit bly nadat misdadigers toegeslaan het op noodsaaklike mediese toerusting.
Die opvoeding van tientalle leerders is in onsekerheid gedompel nadat die Tsakane-skool se mobiele kliniek die naweek geplunder is.
Skoolhoof Thapelo Tshetlo het gesê die kliniek is noodsaaklik omdat die skool voorsiening maak vir kinders met spesiale behoeftes, en gereeld mediese noodgevalle moet hanteer.
“Die leerders moet vanaf Woensdag terug by die skool wees, maar hoe gaan ons aandag gee aan hul noodgevalle met soveel noodtoerusting wat gesteel is?” het hy gevra.
Die lang lys van noodsaaklike items wat geroof is sluit in stuifsproeiers, suurstofsilinders, bloeddrukmasjiene en HGF-toestelle, wat vir bloedglukose gebruik word.
“Hierdie misdadigers is meedoënloos; hulle het selfs sanitêre doekies, HB-meters [vir bloedtoetse] en bloeddrukmasjiene gesteel,” het Tshetlo bygevoeg.
Hulle het ook by sewe ander klasse sowel as die kombuis ingebreek. Een van die twee stowe is langs die skool se veiligheidsheining gevind, waar dit onder die lang gras versteek was.
Dit is tans onbekend wanneer die misdadigers by die skool ingebreek het, maar die skade is eers Maandagoggend ontdek toe die personeellede na die fasiliteit teruggekeer het om voor te berei vir die skool se heropening vandeesweek.
Tshetlo het bygevoeg dat die skool die afgelope drie jaar ‘n reeks inbrake beleef het.
Hy sê die skool bied vaardigheidsopleiding aan en het van die toerusting wat nie gesteel is nie vir lesse gebruik.
“Hoe is ons veronderstel om hierdie leerders te bemagtig wanneer daar elke jaar toerusting gesteel word? Ons verwag van inwoners om die skool te beskerm aangesien dit die enigste fasiliteit hier rond is wat vir kinders met spesiale behoeftes voorsiening maak,” het hy bygevoeg.
Voorsitter van die SBL, Josias Hlambisse, doen ‘n beroep op die gemeenskap om die skool te help beskerm.
“Matshidiso is die enigste skool wat sorg vir leerders met spesiale behoeftes en ons moet die fasiliteit beskerm,” het hy gesê.
Tsakane-polisiewoordvoerder Sersant Lerato Mngomezulu het bevestig dat hulle ‘n saak van ‘n besigheidsinbraak ondersoek.
“Geen verdagtes is in hegtenis geneem nie en ons doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor waar hulle is om na vore te kom,” het sy gesê.
Foto hierbo: ‘n Gestroopte medisynekas in Matshidiso Spesiale Skool
Beeldbron: Doreen Mokgolo