Malawi sluit skole terwyl cholera soos veldbrand versprei

Everson Luhanga

Die owerhede in Malawi het laerskole en hoërskole in twee groot stede tydelik toegemaak ná ‘n cholera-uitbreking wat reeds honderde lewens geëis het.

Skole in die hoofstad, Lilongwe, en kommersiële spilpunt, Blantyre, sal ná die Desember-feesvakansie vir nog minstens twee weke gesluit bly.

Intussen verbreed Dokters Sonder Grense, ook bekend as Médecins Sans Frontières (MSF), sy mediese ondersteuning en kry ekstra plaaslike en internasionale kundiges bymekaar om die uitbreking te beveg.

MSF-noodreaksiekoördineerder Yahya Kalilah het aan die plaaslike media in Malawi gesê dit is noodsaaklik dat die publiek inligting ontvang oor die voorkoming van cholera, vroegtydig mediese hulp verkry, en opname van die orale entstof verhoog.

Cholera is ‘n aansteeklike siekte onder mense en word gekenmerk deur akute diarree simptome. Dit word as ‘n siekte van armoede beskou as gevolg van die voorkoms daarvan in streke met min hulpbronne en swak sanitêre toestande.

Met bevestigde gevalle tot dusver op 21,522 en 716 sterftes, is Malawi op die rand van die ergste cholera-uitbreking sedert die siekte se eerste verwoestende voorkoms in 1998, aangeblaas deur hongersnood.

Met baie Malawiërs in landelike gebiede wat afhanklik is van onbedekte putte vir hul drinkwater, kan die situasie vererger gedurende die reënseisoen.

Die uitbreking het na byna al Malawi se 28 distrikte versprei.

Die Afrika Sentrum vir Siektebeheer sê hy is bekommerd oor die toename in cholera-sterftes in Malawi, en skryf dit toe aan pasiënte wat nie betyds behandeling ontvang nie.

Agt vroulike studente van Ntcheu Sekondêre Skool het positief getoets vir cholera, het onderwysowerhede in die distrik bevestig.

Die distrik se direkteur van onderwys, jeug en sport, Sophia Rosemary Mthiko, het Dinsdag gesê dat ses van die aangetaste studente tot dusver ontslaan is, terwyl twee nog in die hospitaal is.

Te midde van die uitbreking het sommige distrikte in die sentrale streek, veral in Kasungu, geen voorrade van die entstof nie. Woordvoerder van die Kasungu-distriksgesondheidskantoor Catherine Yoweli het die krisis bevestig.

Sy sê die kantore is tans besig om die entstof vanuit ander distrikte te kontrakteer en mense sal binnekort toegang daartoe verkry.

“Slegs ongeveer 243,000 mense in Kasungu is teen cholera ingeënt, uit ongeveer een miljoen mense in die distrik,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: ‘n Seun in Malawi neem ‘n orale cholera-entstof

Beeldbron: @WHOMalawi