Dylan Bettencourt
Gareth Bale se uittrede uit sokker sluit ’n roemryke loopbaan af, waarin hy male sonder tal op die grootste verhoë uitgeblink het.
Die Walliese kaptein, wat maar 33 is, het Maandag gesê hy hang sy tokse op omdat beserings keer dat hy op sy beste speel.
Op die kruin van sy loopbaan was Bale sonder twyfel een van die topspelers in die wêreld.
Hy was maar 16 toe hy sy senior-debuut vir Southampton gemaak het. As links-agterspeler het hy nie rêrig uitgestaan bo die meeste spelers in die professionele sokkerligas se agterlinies nie.
Hy het wel aanvalsvaardighede vir Southhampton ten toon gestel, en Tottenham Hotspur het dit raakgesien en hom in 2007 teen ’n winskoop – £5 miljoen – opgeraap.
By Tottenham het Bale gewys hy het die potensiaal om iets besonders te word. Die jong blits het nog steeds links-agter diens gedoen, maar was op sy beste wanneer hy vorentoe beweeg.
Dit gebeur nie baie dat een vertoning ’n speler se lewe verander nie, maar dis presies wat Bale se skitterspel teen Inter Milan in 2010 gedoen het.
Inter was met 4-0 voor in die eerste helfte van ’n Uefa Kampioeneliga-wedstryd in Oktober daardie jaar, op ’n drafstap op pad na die volgende ronde.
Bale, toe 21, het ander planne gehad. ’n Driekuns in die tweede helfte het nuwe lewe in Tottenham se aanslag geblaas. Dit was nie genoeg om hulle van ’n nederlaag te red nie, maar die klub het besef Bale is ’n kosbare juweel. Só kosbaar dat Real Madrid drie skitterseisoene later ’n wêreldrekordfooi van £77 miljoen vir hom betaal het.
Bale het in Spanje floreer. Hy het 81 doele in 176 wedsryde vir Los Blancos aangeteken, en drie La Liga-titels en vyf Uefa Kampioeneliga-titels saam met die span gewen. Hy kan tereg as Brittanje se voorste sokker-uitvoerproduk beskryf word.
Beserings het sy pylvakjare by Real Madrid geknou, en hy het hom in 2022 by Los Angeles FC aangesluit, waar sy gelykmaker in bykomende tyd sy span gehelp het om die MLS-beker vir die eerste keer te wen.
Hy het nie net op klubvlak uitgestyg nie. Sy prestasies vir Wallis is ongeëwenaar. Hy het altesaam 41 doele in 111 wedstryde aangeteken, en was verlede jaar kaptein toe Wallis vir die eerste keer in 64 jaar deurgedring het na die eindtoernooi om die Fifa-Wêreldbeker.
Sy laaste wedstryd vir sy land was helaas ’n 3-0 nederlaag teen Engeland in die groep-fase, maar sy legendestatus is ongeskonde.
Op die foto hierbo: Gareth Bale
Beeldbron: Fifa