Taxibestuurders neem reg in eie hande, motoriste ry aan pen

By Anita Dangazele

Oos-Kaapse taxi-operateurs bedryf onwettige padblokkades waar hulle motoriste aan afpersing onderwerp, volgens Vervoer LUR Xolile Nqatha.

In ‘n verklaring die naweek het Nqatha wetstoepassingsagentskappe gevra om op te tree teen bedriërs wat hul as verkeersbeamptes voordoen en onwettige padblokkades bestuur.

Hy het gewaarsku dat diegene wat voortgaan om by hierdie aktiwiteite betrokke te wees, die volle mag van die wet sal ervaar.

“Ons kan nie ‘n situasie toelaat waar ons ‘n onwettige wetstoepassingstruktuur het wat sylangs loop met wat ons regering wil bereik en mense folter en afpers vir hul geld nie,” het hy gesê.

“Ons hoor die publiek se klagtes oor hierdie onwettige padblokkades, en neem kennis van die bykomende misdaad van afpersing wat dikwels die kern hiervan is.”

Nqatha het taxibase uitgedaag om standpunt in te neem teen hierdie onwettige dade wat glo deur hul lede uitgevoer word.

“Die paar individue wat hierby betrokke is, kan die beeld van die hele taxibedryf knou,” het hy gesê.

Zola Yolelo, provinsiale voorsitter van die SA Nasionale Taxiraad, het die LUR daarvan beskuldig dat hy weier om met die taxibedryf saam te werk.

Hy het gesê die taxi-vereniging het tydens padblokkades saam met die polisie en verkeersdepartement gewerk. “Die polisie of verkeersdepartement is nie die Heilige Gees nie, hulle is nie oral op dieselfde tyd nie.

“Ons teenwoordigheid dien om die polisie te waarsku wanneer die wet oortree word – ons probeer nie om die polisie te wees nie.”

Wat betref die berowing van motoriste: “As daar van ons lede is wat dit gedoen het, verdedig ek hulle nie,” het hy gesê.

Yolelo het gesê hulle was net behulpsaam. “Wanneer ons sien ‘n Corolla is vol mense, en dit het nie ’n permit nie, hou ons dit aan todat verkeersbeamptes en die polisie die saak kan hanteer.”

Motoriste sê taxi-operateurs gebruik hierdie onwettige padblokkades om na rylopers te soek. Hulle beweer taxi-operateurs eis om te sien dat die identiteitsdokumente van passasiers in die motor, dieselfde van toon. As daar gevind word dat passasiers verskillende vanne het, word hulle gedwing om ‘n boete aan die taxi-operateurs te betaal.

Nonzukiso Hala, wat onlangs ‘n slagoffer van so ‘n voorval was op ‘n reis vanaf Mthatha na Gqeberha, het gesê geen mate van praatjies kan hierdie kwessie oplos nie.

“Dit gaan al jare so aan en dit sal nooit ophou nie. Die polisie doen niks daaraan nie. Ons weet reeds wat om te verwag gedurende die Desembervakansie en Paasnaweek. Taxi-operateurs is selfs arrogant daaroor, want hulle weet hul sal nie daarvoor gearresteer word nie.”

Nog ‘n motoris het gesê dis die geval omdat van die taxibase ook polisiebeamptes is, en daarom sal hulle niks aan die situasie doen nie.

Provinsiale polisiewoordvoerder, Brigadier Tembinkosi Kinana, het gesê die polisie monitor die situasie en het lede van die publiek versoek om sulke aktiwiteite aan te meld.

Op die foto hierbo: Vervoer LUR Xolile Nqatha spreek wetstoepassers toe tydens ‘n padblokkade

Beeldbron: Oos-Kaapse Departement van Vervoer