Harry se mor-marathon skyn kollig op spanning in koningshuis

Dylan Bettencourt

Nadat gedeeltes van Prins Harry se komende boek, “Spare”, uitgelek het, is die sluier gelig oor groot uitvalle binne die Britse koninklike familie.

Miskien was die skokkendste onthulling Harry se bewering dat sy broer, Prins William, hom “vloer toe gemoker het” tydens ‘n gestryery in die gesin se kombuis.

Die appelswaaiery is na bewering veroorsaak deur William se opmerkings oor Harry se vrou, Meghan Markle.

Harry het beskryf hoe sy broer sy kraag gegryp en sy halsketting afgeruk het voordat hy hom by ‘n Londense kothuis grond toe gestamp het, het BBC berig.

In die boek beweer Harry ook dat beide hy en sy broer hul pa gevra het om nie met Camilla te trou ná hul ma, prinses Diana, se dood nie. Charles, nou Koning Charles maar toe die Prins van Wallis, het ‘n verhouding met Camilla gehad terwyl hy met Diana getroud was – Harry het gevoel hy kon hulle nie daarvoor vergewe nie.

Diana is in 1997 in ‘n motorongeluk oorlede toe Harry net 12 jaar oud was.

Harry het voortgegaan om oor sy oorlede ma te praat, en vertel van die keer toe hy jare ná Diana se dood met ‘n vrou “met kragte” gaan praat het om ‘n boodskap van sy ma te ontvang.

Harry skryf dat die vrou vir hom gesê het: “Jou ma sê dat jy die lewe leef wat sy nie kon nie,” – en dat hy die lewe leef wat Diana vir hom wou hê.

Harry het oor sy dwelmgebruik as tiener en as jong volwassene geskryf, en beweer dat daar op die ouderdom van 17 aan hom kokaïen aangebied is.

“Dit was nie veel pret nie en dit het my nie besonder gelukkig laat voel, soos wat dit blykbaar die geval was vir almal anders nie, maar dit het my anders laat voel, en dit was my hoofdoelwit,” het hy geskryf.

“Ek was ’n 17-jarige seun wat gereed was om enigiets te probeer om die voorafbepaalde orde te verander.”

Jare later, as helikoptervlieënier in Afghanistan in 2012 en 2013, het hy erken dat hy 25 mense – geïdentifiseer as lede van die Taliban – tydens die konflik om die lewe gebring het.

Hy het geskryf dat sy ervarings in Afghanistan hom nie met trots vul nie en hom ook nie skaam maak nie.

“Toe ek myself te midde die verwarring van gevegte bevind, het ek nie aan daardie 25 as mense gedink nie. Hulle was skaakstukke wat van die bord verwyder is, slegte mense wat uitgeskakel [moes] word voordat hulle goeie mense kon doodmaak.”

Daar is meer onthullings om na uit te sien wanneer “Spare” amptelik vrygestel word, en spanning onder die koninklike familie – wat tans hoogty vier – gaan nog verder toeneem.

Maar die boek is deur baie kommentators afgeskiet. Rina Sun het geskryf dat die boek ‘n “kinderagtige, desperate en siek man onthul het. Geen kwesbaarheid nie, geen aanspreeklikheid nie – miskien die langste skynheilige gemor in menseheugenis. Ek is dankbaar dat ons geliefde oorlede koningin dit nie hoef te sien nie.”

Op die foto bo: Prins Harry en prins William

Beeldbron: Vanity Fair