‘n Ugandese poligaam en pa van 102 kinders het belowe om sy voortplanting te staak weens die toename in lewenskoste.
Musa Hasahya, ‘n 67-jarige boer, het 102 kinders verwek, wat deur sy 12 vroue gebaar is. Hy het ‘n allemintige 568 kleinkinders.
Hasahya het besluit om op te hou kinders maak, aangesien hy nie genoeg geld verdien om sy mini-stam te onderhou nie, en het sy vrouens gevra om voorbehoedpille te begin gebruik.
“My inkomste het oor die jare laer en laer geword as gevolg van stygende lewenskoste, en my gesin het groter en groter geword,” het hy aan The Sun gesê.
Hasahya het gesê hy het die een vrou na die ander getrou, aangesien ‘n man nie met net een vrou kan oorleef nie.
Hy het bygevoeg dat hy saam met hulle almal in dieselfde huis woon.
“Dit maak dit vir my maklik om ‘n oog oor hulle te hou en te keer dat hulle saam met ander van die dorp se mans wegglip,” het hy gesê.
Zukaika is sy jongste vrou. Sy is 31 jaar oud en is die ma van 11 kinders.
Sy het haar ook voorgeneem om geen meer kinders te hê nie.
“Ek het die benarde finansiële situasie gesien en ek drink nou geboortebeperkingspille,” het sy gesê.
Hasahya se jongste kind is ses, terwyl sy oudste 51 is – sowat 20 jaar ouer as sy jongste vrou.
Hasahya kan weens swak gesondheid nie meer werk nie en twee van sy vrouens is reeds vort weens die finansiële druk.
Hasahya se eerste huwelik was met sy vrou Hanifa in 1971 toe hy 16 was. Hy het daarna sy skoolloopbaan opgegee, en twee jaar later het hy sy eerste babadogtertjie verwelkom, berig The Mirror.
Hy doen nou ‘n beroep op die regering vir bystand aangesien hy sukkel om die opvoeding van al sy kinders te finansier.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
Op die foto bo: Musa Harashya met sy 102 kinders en vrouens
Beeldbron: IOL