Belowende polisievrou deur gade doodgewurg

By Karabo Rammutla

Phinderia Botshelo Phora was een van duisende nuwe polisierekrute wat verlede maand ‘n gradeplegtigheid in Pretoria-Wes bygewoon het om die blink toekoms wat vir haar voorlê te vier.

Die 31-jarige was by Dennilton Polisiestasie gestasioneer en gereed om Suid-Afrika ‘n veiliger plek te maak nadat sy die polisieprogram voltooi en gegradueer het.

Maar sy is tragies op Nuwejaarsdag vermoor, na bewering deur haar jaloerse man, wat haar dikwels daarvan beskuldig het dat sy ‘n buite-egtelike verhouding gehad het.

Die man, ‘n tronkbewaarder, het Donderdag in Mamelodi Landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.

Phora se lewelose liggaam is op 2 Januarie in ‘n agterkamer van die huis gevind wat die egpaar in Fase 5 van Mamelodi-Oos in Tshwane gehuur het.

Daar word beweer dat sy die dag voordat sy gevind is met ‘n kabel doodgewurg is.

‘n Buurvrou, wat anoniem wil bly, sê haar lyk is deur familielede gevind terwyl haar man terselftertyd soek geraak het.

Die buurvrou sê die man is later gevind en is in ‘n hospitaal opgeneem, waar hy beken het dat hy selfmoord probeer pleeg het deur gif in te neem.

“Die man het haar daarvan beskuldig dat sy verneuk sedert sy ‘n polisiebeampte geword het. Sy het ons eenkeer gebel om vrede tussen hulle te probeer maak aangesien hulle heeltyd baklei het,” het sy gesê.

Nadat die man vlugtig by die landdroshof in Mamelodi verskyn het, is die saak tot 11 Januarie uitgestel sodat hy ‘n regsverteenwoordiger kan kry, want hy het die dienste van ‘n staatsbefondsde prokureur van die hand gewys.

Op die foto hierbo: Phinderia Phora is na bewering deur haar man doodgewurg.

Beeldbron: Verskaf