G’n braai? G’n probleem: Sibusiso is jou ou!

Buziwe Nocuze

‘n Port St John’s man wat die fyn kuns van vleisbraai verstaan geniet deesdae onverwagse aansien onder plaaslike strandgangers.

Die 38-jarige Sibusiso Mjaliswa werk op Tweede Strand en braai dagbesoekers se vleis tot perfeksie.

Hy kom vroegoggend by die strand aan en kry sy braaigoed gereed. Besoekers wat nie uitmaak van braai, of nie hul eie rooster het nie, kan eenvoudig die heerlike reuk van Mjaliswa se braaivuur volg en hom vra om hul vleisie oor die kole te haal vir ‘n geringe fooi.

Alhoewel hy deesdae ‘n bekende en gewilde kenmerk van die strand is, het hy vantevore dag in en uit dieselfde seesand bewandel as werklose siel.

“Ek het aanvanklik saam met ‘n familievriend hierheen gekom om na hul motor om te sien terwyl hulle strand toe is,” het Mjaliswa aan Scrolla.Africa gesê.

Terwyl hy eendag meer as 10 jaar gelede op en af ​​langs die strand gestap het, het ‘n groep mense hom genader.

“Hul het gevra of ek vir hulle kan braai, maar ek het geantwoord ek’s self maar net ‘n strandkuiergas,” het hy gesê.

Toe hy terugkeer huis toe, kon hy nie ophou dink aan die mense se versoek nie.

“Ek het nie werk gehad nie, en was afhanklik van my broers en susters. Ek het besluit om terug te keer strand toe en vir die besoekers te braai.”

En dit doen hy nou al vir meer as ‘n dekade. Hy werk sy fooi uit na gelang van die aantal items wat sy klante gebraai wil hê.

“Ek het nie ‘n presiese bedrag nie. Sommige moet net met vleis bygestaan ​​word, terwyl ander vleis en wors bring – die prys verskil, maar ek is nie duur nie,” het hy gesê.

Selfs al vra hy nie veel nie is sy besigheid aan’t floreer – veral gedurende die feesseisoen.

“Ek maak meer as R1,000 per week gedurende die feestyd want dis besig en mense is te lui om te braai. Hulle wil swem met die wete dat hul vleis gereed sal wees wanneer hulle uitkom.”

Sindiswa Mavunjana, 50,  hou van die strand omdat Mjaliswa dinge vir haar maklik maak.

“Ek is mal oor vleis, maar ek hou nie van die braai-deel nie. Hy was slim om hierdie besigheid te begin, want dit maak ons lewe baie makliker,” het Mavunjana gesê.

Mavunjana het bygevoeg sy hoop jongmense word deur Mjaliswa se ondernemingsgees gemotiveer en dat hulle, net soos hy, hul eie voorspoed sal verseker.

Op die foto hierbo: Sibusiso Mjaliswa braai vleis by Tweede Strand in Port St John, Oos-Kaap

Beeldkrediet: Buziwe Nocuze