‘n Thaise man het gesê geheueverlies is te blameer nadat hy sy vrou per ongeluk tydens ‘n bospiepie op Kersdag agtergelaat het.
Die egpaar was op pad na die vrou se tuisdorp om die Nuwejaar daar deur te bring toe hulle skielik in die middel van die bosse moes stop om water te laat.
Maar toe die vrou terugkeer het haar man reeds die pad geslaan… sonder haar in die motor.
Boontom Chaimoon, 55, en sy vrou Amnuag Chaimoon, 49, het Sondag om 3vm ‘n reis onderneem om die Nuwejaar in haar tuisdorp in Maha Sarakham Provinsie deur te bring, het Must Share News berig.
Die vrou moes gevolglik 20 km deur ‘n donker woud stap voordat sy om 5vm die oggend by haar bestemming aangekom het.
Die vrou het glo die saak by die polisie aangemeld, want sy het nie geweet wat met haar man gebeur het nie.
Om sake te vererger, kon die vrou nie haar vergeetagtige man in die hande kry nie, aangesien haar selfoon in die motor agtergebly het terwyl sy in die bosse gaan urineer het.
Die polisie het die man se nommer verskeie kere gebel, maar dit het net gelui.
Om 8vm het die man uiteindelik sy foon geantwoord en verduidelik dat hy al die pad gery het tot by Korat Provinsie, 160 km van die polisiestasie af, volgens ‘n berig in Thailand Posts English.
Ten spyte van sy legendariese daad van vergeetagtigheid, het Amnuag gesê hulle het verbasend genoeg nie gestry toe hy sy vrou opgetel het nie. Hy kon maklik die nag op die bank moes deurbring…
Sy het later onthul dat hulle al 27 jaar lank getroud is en ‘n 26-jarige seun het.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
Op die foto hierbo: ‘n Bakkievoertuig
Beeldbron: @IOL