Meer lande belaai reisigers uit China met Covid-beperkings

Verskeie lande regoor die wêreld, insluitend die VSA en die Verenigde Koninkryk, het reisbeperkings op China ingestel ná ‘n styging in die land se Covid-19 gevalle.

Gevalle het regoor die land toegeneem in Desember nadat die regering sy streng beperkings verlig het te midde van wydverspreide betogings.

Owerhede het erken dat die uitbreking “onmoontlik” is om vas te trek. Die Chinese regering het verlede week aangekondig dat hulle sal ophou om ‘n rekord te hou van die aantal mense wat aan Covid-19 sterf. Intussen het Beijing se Nasionale Gesondheidskommissie Saterdag gesê hy sal nie meer daaglikse gevalsyfers publiseer nie.

Sommige lande het verpligte regulasies ingestel, insluitend dat mense wat van China af aanland vir Covid-19 getoets word.

Vanaf 5 Januarie 2023 sal lande insluitend die VSA, Australië, Kanada en die VK, sowel as die Europese Unie, die nuwe verpligte Covid-19 toetsreël vir reisigers van China af implementeer.

Suid-Afrika het egter tot dusver verkies om nie beperkings te plaas op mense wat van China af arriveer nie.

“Dit is nie nodig vir die publiek om paniekerig te raak nie,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die Departement van Gesondheid, volgens ‘n EWN verslag.

Die nuwe C19-verwante reisregulasies wat deur die lande geïmplementeer is, vereis dat almal wat vanaf China reis, ‘n negatiewe Covid-19 toetsuitslag moet voorsien, wat binne twee dae voor die reisiger se vertrek gedoen is.

Japan was een van die eerste lande wat nuwe reëls op aankomelinge uit China ingestel het, wat ‘n negatiewe Covid-19 toets van reisigers vereis.

Die reëls sluit diegene in wat vanaf Hong Kong en Macau reis.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Dokters neem ‘n deppertoets van ‘n pasiënt

Beeldbron: The Citizen