Kersvakansie in Vryheid eMondlo

By Sbongile Nonyana

Dis daai tyd van die jaar wanneer mense saam met hul gesinne en familie bymekaarkom, sit en praatjies maak oor genotvolle herinneringe van die pret wat ons as kinders gehad het.

My familie kom van Lesotho af maar my ouers het in die vroeë sewentigerjare na Suid-Afrika se Vryheid eMondlo-streek verhuis en kort daarna is my oudste broer gebore, gevolg deur nog ses van ons.

Ons was mal oor Kersvakansies in ons grootwordjare, want dit was die enigste keer wat ons nuwe klere kon aantrek en spesiale kos kon eet.

Omstreeks 11-uur op Kersoggend het ons gebad en ons nuwe klere aangetrek. Daarna het ons van huis tot huis gegaan en vir enige Kersgeskenke gevra – in my dorpie het ons gewoonlik lekkers en koekies ontvang.

Die jare het verbygegaan en soveel dinge het verander; kos wat ons net op Kersfees sou geniet, word nou sommer elke dag van die week geëet.

Nou braai ons net saam met my familie en kinders word nie toegelaat om enige van ons huishoudings te besoek nie.

As gevolg van hoe wreed die wêreld geword het, vertrou ons mekaar nie meer met ons kinders nie en ongelukkig kan ons kinders nie Kersfees geniet soos ons toe ons jonk was nie.

Die afgelope twee jaar was Kersfees ook nie dieselfde nie, want ek het my geliefde pa – my Papa – op 29 Julie 2020 aan die dood afgestaan.

Elke keer as ek in hierdie tyd van Gauteng af tuiskom, word ek daaraan herinner dat my pa nie meer met ons is nie, want hy het grappies gemaak en ons het kwaliteit pa-dogtertyd geniet, aangesien ek sy enigste kind is.

Vanjaar het ek soveel dinge om voor dankbaar te wees, want ek het in April my honneursgraad behaal, en het met sukses vir my meestersgraad geregistreer.

Om by Scrolla.Africa te werk was ‘n vreugdevolle ervaring, want dit het my gehelp om verder te studeer aangesien ek mik vir ‘n doktersgraad binne die volgende paar jaar. My studie is gebaseer op vertaling en vertolking, en om as vertaler te werk het my baie gehelp.

Ek bid en hoop volgende jaar is propvol seëninge, vreugde, meer geld en meer gelag.

Op die foto hierbo: Sbongile Nonyana

Beeldbron: Verskaf