By Anita Dangazele
In my kinderdae was Kersfees altyd gevul met lekker lag, heerlike kos, en met groot oë luister na my neefs en niggies se stories oor die stad. O, en hoe kan ek vergeet? Die opwinding om Kersfeesklere te ontvang.
Kerstyd het vir my nog altyd ‘n vol huis beteken met al my niggies, neefs, tantes en ooms wat vir ons stories vertel het van hoe Kersfees in hul dae op die dorp gevier is.
Een van my teerste en mees gewaardeerde herinneringe, nou as ‘n volwassene, is hoe my ma altyd seker gemaak het dat sy elke storie met ‘n lewensles afsluit. Al sou ek dit destyds nie verstaan het nie.
“Vetkoek en winkelbrood met grondboontjiebotter, konfyt en botter was ‘n luukse wat ons slegs tydens Kerstyd ervaar het. Wees dus dankbaar dat jul lot soveel anders is,” sou sy sê.
Ek dink as gevolg hiervan het ek die waarde van dankbaarheid geleer, en om klein dingetjies in die lewe te waardeer.
My ma het vertel hoe hulle oornag jellie in die tuin tussen koringrye gevries het, en hoe hulle hul hare op Kersoggend met ‘n warm klip styleer het.
Sy het stories op so ‘n manier vertel dat mens helder prentjies in jou kop kon optower van die karakters en die dinge wat hulle aangevang het.
Dit is vyf jaar sedert haar heengaan en Kersfees was nog nooit weer dieselfde nie. Niemand in ons familie was sedertdien opgewonde oor Kersfees nie. My tantes het altyd gesê sy is die gom wat ons almal bymekaar hou. Ons het die afgelope vyf jaar geen Kersbyeenkoms gehou nie.
Vanjaar het ek egter ‘n ander gevoel oor Kersfees. Ek gaan dit op unieke wyse spandeer.
‘n Goeie vriendin van my staan op trou. Haar aanstaande se mense woon in die platteland en is diep gewortel in die landelike kultuur, met ‘n ‘plattelandse’ manier van dinge doen, en sy het my gevra om haar by te staan terwyl sy haar by haar nuwe gesin vestig.
Volgens Xhosa gebruike en tradisies word ‘n makoti toegelaat om ‘n goeie vriendin saam te bring om haar met pligte by te staan.
Ek is rasend opgewonde om Kersfees weer in ‘n plattelandse omgewing te beleef. Ja, dinge het nogal drasties verander sedert my kinderdae op die dorp. Die dorpies is redelik gemoderniseer, maar ek sien uit daarna om Kersfees in daardie tipe omgewing deur te bring, amper asof ek dit deur my ma se oë gaan ervaar.
Op die foto hierbo: ‘n Gesinsbyeenkoms ter voorbereiding van die komende Tsiki (tradisionele Xhosa-troue) seremonie op Kersdag.
Beeldbron: Verskaf