Laas jaar het ek my oorlede ma se Kersfees herskep – dié jaar maak ek dit myne

By Zavela Makwabe

My ma is in Januarie 2021 oorlede, en die ervaring het my wêreld verander in ‘n landskap van verbryselde skerwe.

Dit was asof ‘n mat onder my voete gepluk is en als het om my inmekaar geval. Ek het soos ‘n gekwesde gekruip deur die maande wat gevolg het, die aanloop na wat my eerste Kersfees sonder haar sou wees.

Jy sien, my ma was groot op Kersfees; die feesmaal, die lekkernye, die uitrustings endiesmeer. Soos die vakansie nadergesleep het, was ek verteer deur ‘n vurige begeerte om die gewoonte van ons familietradisie te handhaaf, want as daar een ding is waaroor ons almal saamstem, is dit dat sy nie sou wou hê ons moet dikbek rondlê, veral oor die Kerstyd, nie.

Vasbeslote om dit reg te kry, het ek alles op my lys betyds gekoop. Ek het deur Oukersaand gewerk en van ma se spesiale disse voorberei en nagemaak.

Ek gee myself ‘n A vir moeite. Nietemin het ek besef dit was nie so maklik soos sy dit altyd laat lyk het nie, maar met die hulp en toewyding van my spesiale klein elf (my destyds sesjarige dogter), het ek en my broers en susters by die tafel aangesit vir middagete op Kersdag, geëet, gesels en lag.

Maar ons laggery het ‘n hol ondertoon gehad – selfs in my eie ore. Ek dink dit was eers op daardie oomblik dat die hartseer van ons ma verloor posgevat het. Kersfees sal nooit weer dieselfde wees nie!

Maar daardie besef is gevolg deur ‘n voorneme dat ons met ‘n paar nuwe maniere vorendag moet kom om ons Kerstradisie te laat herleef en ekstra spesiaal te maak.

So, hierdie jaar hoop ons vir die betowering van ‘n nuwe begin. Eerste op die lys is paar veranderinge aan die spyskaart en ek moet sê, ek werk daaraan om my opgewondenheid en rustelose afwagting te onderdruk. Dis immers die seisoen om jolig te wees.

Die jaar 2022 was vir my ‘n reeks van klein triomfies, soos om my andersheid te aanvaar, deur die slegte dae te waad, en items van my doenlysie af te merk. Maar mees noemenswaardig is dat dit ‘n jaar van genesing was.

Ek sien uit na ‘n geseënde Kersfees en ‘n gesonde en gelukkige 2023.

Op die foto hierbo: Die boom word versier saam met my dogter, Angani

Beeldbron: Verskaf