By Sizwe Sibiya
In Augustus vanjaar is Scrolla.Africa se nagredakteur en kultuurskrywer, Sizwe Sibiya, oorlede. Hy was net 26 jaar oud. Hieronder is ‘n brief wat hy dié tyd verlede jaar geskryf het. Dit beskryf Kerstyd in Volksrust – die dorpie in KwaZulu-Natal waar Sizwe grootgeword het.
Dit sal my verbaas as jy al ooit van Volksrust gehoor het. Dis die klein dorpie op die N11, wat reisigers lei van KwaZulu-Natal in die suide na Mpumalanga in die noorde.
‘n Geslote ou treinstasie staan en verrot op die lyn wat Vukuzakhe township se swart gemeenskap van die middedorp skei.
Sigbaar vervallende wit voorstede omring die dorp se sakekern. Langs die ou treinstasie is ‘n klein groepie tweevertrek-regeringshuise wat hoofsaaklik deur bruin mense bewoon word.
Ou mense in die township vertel stories oor hoe die dorp rondom die treinstasie ontwikkel en werk verskaf het aan baie mense van omliggende landelike gebiede, wat hul uiteindelik hier tuisgemaak het.
Ten spyte van ‘n geskiedenis vervlek met rassediskriminasie, sal jy deesdae die land se mees ontspanne en verwelkomende mense hier vind – selfs al ken hulle die geluid van geweerskote en skokgesig van ’n dooie liggaam wat op straat lê.
Die ongenaakbare Covid-19 pandemie het Volksrust diep getref, met vrees en wantroue wat onder gemeenskapslede geheers het.
As ‘n seun wat sy vormingsjare in die dorp deurgebring het, was Kersdag my heel beste vakansie.
Ons kinders sou destyds Kersbome met toegedraaide bokse onder hulle sien. Ek het eers later uitgevind dis geskenke – geskenke wat ons nooit by ons huis of enige ander huise in die township geken het nie.
Omdat ek nooit kerk toe gegaan het nie, het ek nie eers geweet dat Kersfees veronderstel is om die geboorte van Jesus te vier nie.
Op Kersdag was ons vroeg uit die vere, want almal in die gesin moes hul deel doen om te verseker dat dit die mees spesiale dag van die jaar sou wees.
In my pa se huis was dit die seuns se taak om te sorg dat die erf indrukwekkend skoon was, terwyl die vrouens die huis opgeruim en ‘n groot feesmaal voorberei het.
Wanneer die werkies afgehandel was, het al die kinders na hul eie huise verdwyn vir ‘n vinnige bad voor die fees. Dan het ons almal weer verskyn met ons nuwe “Kersfeesklere”, soms ‘n nuwe uitrusting van kop tot tone, afhangende van wat jou gesin kon bekostig. Vir die meeste van ons was dit die enigste nuwe uitrusting wat ons daai jaar sou ontvang.
Die belangrikste deel van die dag vir die kinders was om al die kos te verorber wat ons kon kry. Ons sou begin deur middagete te nuttig by my huis saam met vriende, en dan na die bure toe verkas vir Kersfeeskoeke of Bakers “Choice Assorted” koekies.
Teen agtermiddag sou ons by een of ander dame se huis beland, moontlik iemand sonder kinders van haar eie, wat vir ons nagereg sou gee om die feesmaal te voltooi. Ons sou ‘n bietjie daarvan eet maar genoeg spaar om saam te neem.
Teen die aand het ons huis toe gegaan met lekkers in ons sakke en glimlagte op ons gesigte om ons deur die komende jaar te dra.
Op die foto hierbo: Die klein dorpie Volksrust, waar Sizwe vandaan kom
Beeldbron: Verskaf