By Lungani Zungu en Celani Sikhankane
Meer as agt maande het verloop sedert vloede in April dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verwoes het, maar honderde ontheemde huishoudings gaan steeds Kersfees in die koue deurbring.
Vandeesweek is talle gesinne in Ntuzuma F-afdeling in eThekwini dakloos gelaat toe die tente waarin hulle sedert April bly deur kitsvloede weggespoel is.
Dit het die gesinne, onder wie daar baie jong kinders is, gedwing om skuiling te soek in ‘n gemeenskapsaal waar hulle Kersfees sal deurbring.
Diegene wat geraak word, het gekla oor beknopte en vuil toestande waar gesinne in oop ruimtes moet saamwoon.
“Soos ons hier praat het ons geen privaatheid hier nie. Jy moet voor mans bad en jou klere aantrek voor kinders wat aan hierdie onmenslike lewe blootgestel word,” het Thandi Ngcongo, een van die saalinwoners, gesê.
Sibonelo Mkhize het gesê die tente was beter omdat daar privaatheid was, maar dis nie die geval in die gemeenskapsaal nie.
“Ek kan nie sê ek verkies om vir die res van my lewe in ‘n tent te bly nie, maar dit was beter daar omdat ek darem ‘n bietjie privaatheid gehad het.”
Baie van die inwoners blameer die provinsiale regering omdat daar geen dringendheid was om hul in behoorlike huise te plaas nie.
“Hulle het hierheen gekom en beloftes aan ons gemaak. Mense het hierdie week amper weer gesterf tydens die swaar reënval wat ons uit ons tente gedwing het. Hierdie sal beslis ’n somber Kersfees vir ons wees,” het Mkhize gesê.
Nog ‘n inwoner, Sbusiso Dlamini, het gesê: “Politici kom hierheen om saam met ons foto’s te neem en maak groot beloftes om hul agenda en aanhang te bevorder.”
Dlamini het gesê daar is geen politikus wat hulle uit skuilings na behoorlike huise sal verplaas nie.
Die ANC-regering is deur opposisiepartye oor die kole gehaal oor die lot van vloedslagoffers.
Dinsdag het die EFF se provinsiale leierskap, onder leiding van sekretaris-generaal Marshall Dlamini, die slagoffers besoek en kospakkies vir Kersfees geskenk.
Hy het die slagoffers aangeraai om onbeboude grond te beset.
“Ons doen ‘n beroep op julle om uit te kyk vir enige leë grond en dit binne te val sodat hulle vir julle huise kan bou,” het hy gesê.
Dit kan egter lei tot lopende botsings tussen die grondeienaars en die slagoffers, soos wat reeds in Oktober gebeur het in gebiede soos Reservoir Hills, toe vloedslagoffers ‘n ongebruikte gebou bestorm het.
Mxolisi Kaunda, burgemeester van eThekwini, het onlangs onthul dat R46 miljoen opsy gesit is vir vloedslagoffers.
Ander slagoffers het die ongebruikte Transnet-gebou in Montclair onwettig beset.
Op die foto hierbo: Die tente in Ntuzuma wat vandeesweek deur reën weggespoel is
Beeldbron: Verskaf