Kersfees is altyd ‘n wonderlike ding in my vreedsame tuisdorp

By Lungani Zungu

Die feestyd beteken altyd vir my een ding: ‘n reis weg van die stampvol en raserige Durban na my tuisdorp Mandeni – ‘n plek van vrede en kalmte.

My dorpie, geleë aan die voet van golwende heuwels, heet Mhambuma en is sowat 120 kilometer noord van Durban, in KwaZulu-Natal.

‘n Paar kilometer van my huis af is die Msunduzi-rivier, wat verby die huis se voordeur vloei.

Hierdie asemrowende uitsig, boonop met voëltjies se getjirp, is wonderskoon vir enigiemand wat die grootste deel van die jaar bestee in ‘n besige stad soos Durban.

Soos die geval met meeste families, is Kersfees altyd ‘n miernes van bedrywighede vir my gesin. Hierdie jaar is geen uitsondering nie.

Die week voor Kersfees skop gewoonlik af met vroue wat Umqombothi maak – die gefermenteerde tradisionele bier wat sowat vyf dae vat om voor te berei.

Op Kersdag, terwyl die mans tradisionele bier afsluk, knie die vroue deeg om Idombolo (bolletjies) te maak wat saam met bokvleis voorgesit word.

Teen die tyd het die mans – wat al van vroegoggend af wakker is – reeds die vleis gekook van bokke wat die vorige dag geslag is.

Dit is ‘n groot fees met genoeg vir almal – insluitend besoekers en bure.

Op Kersdagoggend is meeste huise gehul in rookwolke gemaak deur buitevure waar maaltye kook in die tradisionele driebeenpot.

Kameraadskap vier hoogty onder my familielede, aangesien baie van hulle net een keer, in Desember, ons tuisgrond besoek.

Ons familie se bejaarde gebruik die geleentheid om opwindende stories van oorloë tussen verskillende strydende dorpies in die omgewing te vertel.

Dit maak nie saak hoeveel keer vantevore mens al die vertelling van ‘n sekere storie gehoor het nie, dit voel altyd of jy dit vir die eerste keer beleef wanneer die verhaal weer met jou gedeel word.

Ag, ek kan nie wag vir Kersdag nie.