By Doreen Mokgolo
‘n Polisiesersant is Dinsdagaand deur ‘n wanordelike dronk man aangerand nadat hy gevra is om op te hou drink in die openbaar.
Twee lede van die Sigbare Polisie-eenheid (VISPOL) het die gebied patrolleer toe hulle ‘n groep mans op die sypaadjie sien sit en alkohol drink.
Die beamptes het hulle gevra om na die erf toe te beweeg, aangesien drink in die openbaar ‘n kriminele oortreding is.
Dit het nie goed afgegaan met die groep beskonke mans wat na bewering geweier het om met die beamptes saam te werk nie.
Hulle het aangehou om te vloek en die twee beamptes gedreig voordat hulle een beampte herhaaldelik aangerand het.
In die video wat deur een van die mans opgeneem is, kan gesien word hoe die verdagte die beampte herhaaldelik stoot en aanrand, met sy vriende wat hom in die agtergrond toejuig en aanmoedig om die beampte te ontwapen.
Een van die mans word gehoor as hy sê: “Mshaye Bafana utshwala lo siyazithengela, bayaphapha laba” – Zoeloe vir “Slaan hom Bafan, hierdie ouens is te voor op die wa, ons koop ons eie alkohol”.
Die beampte het sy diensvuurwapen vasgehou terwyl sy vroulike kollega by die verdagte gepleit het om op te hou om hom aan te rand totdat hulle van die toneel af kon wegry.
Die video het sedertdien sosiale media-platforms laat gons.
Ooggetuie Morongwa Mokgoshing het gesê sy was weerloos toe die man die beampte begin aanrand.
“Ons het met hom probeer redeneer, maar hy wou niks daarvan weet nie, want hy was reeds dronk. Hulle het daardie oggend al begin drink.”
Weens erge misdaad in die gebied het inwoners die polisie gevra om die strate te patrolleer, maar nou jaag dieselfde inwoners hulle weg.
Mokgoshing het gesê sy pleit by die polisie om diegene wat die wet oortree van hul strate af te verwyder.
Springs-polisiewoordvoerder Sersant Themba Tshabalala het bevestig dat hulle ‘n saak van aanranding van ‘n polisiebeampte ondersoek.
“Die beampte het beserings opgedoen en mediese aandag ontvang.
“Die verdagte is gearresteer en sal binnekort voor die Springs-landdroshof verskyn.”
Op die foto hierbo: ‘n Springs-beampte word deur ‘n dronk man ontwapen en aangerand
Beeldbron: Verskaf