By Tladi Moloi
Die Vrystaatse munisipaliteit Maluti-a-Phofung en Eskom blameer mekaar wyd en syd terwyl ‘n groot deel van Qwaqwa al vir ‘n maand sonder elektrisiteit sit.
Die gemeenskappe van Clubview, Mphatlalatsane, Phuthaditjhaba, Super, Naledi Mall, Thaka Bafutsana, askook Nywerheidsgebiede 1, 2 en 3 is sedert Sondag 18 November sonder elektrisiteit en dus in duisternis gehul.
Die kragonderbreking het ná ‘n deurfout by die Eskom-kragstasie naby die Universiteit van die Vrystaat plaasgevind.
Die gemeenskap moes terugval op ander energiebronne soos gas, paraffien en steenkool om hul buurte van verligting en verhitting te voorsien.
Eskom het nog geen aanduiding gegee oor wanneer die krag herstel sal word nie. In plaas daarvan om die probleem aan te spreek, het die kragvoorsiener beweer dat die saak nooit aangemeld is nie.
Eskom sê die munisipaliteit het nog nie met hulle oor die kragonderbreking gepraat nie. Titi Makhetha van Eskom se kommunikasie en belangegroepbestuur in Sentraal-Oos het gesê: “Eskom wag vir die munisipaliteit om by die herstel van toevoer betrokke te raak.”
Die munisipaliteit beweer hulle het wel die saak aangemeld, en voeg by dat hulle nie beheer oor die Eskom-kragstasies het nie.
Die munisipaliteit het Dinsdag ’n kennisgewing op hul Facebook-blad geplaas wat lees: “Eskom Hid SOC Ltd substasie langs die Universiteit van die Vrystaat, Qwaqwa-kampus word herstel. Dit beïnvloed kragtoevoer in die volgende gebiede. Ons het geen tydsaanduiding van Eskom ontvang oor die herstel van krag nie. Ons sal laat weet sodra ons enige inligting ontvang.”
Makhetha het die munisipaliteit se verklaring as vals afgemaak: “Ek het gelees wat vir my gestuur is en dit is nie waar nie. Ons werk nie daar nie,” het sy gesê.
Thabo Kessah, die munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, het gesê hulle was verbaas om te hoor dat Eskom nie die skade herstel nie. Hy het gesê daar is na hulle uitgereik en selfs aangebied om te help..
“Ons bestuurder het met daardie mense gepraat en hulle het gesê hulle wag vir die materiaal van New Germany, so ek is verbaas. Ons het selfs vir hulle daardie onderdeel aangebied wat hulle benodig het. Ons tegnici mag nie by daardie kragstasie ingaan nie,” het hy gesê.
Terwyl die twee instansies mekaar blameer, kan honderde gemeenskapslede steeds nie hul huise verlig of warm maaltye kook nie.
Inwoner Mammoko Tsotetsi van Matsikeng het gesê sy sukkel om sonder krag oor die weg te kom.
“Ons weet nie wat ons met hierdie munisipaliteit moet doen nie, hulle respekteer ons nie. Ons yskaste is vrot maar dit traak hulle nie. Ons moet nou gas of paraffien gaan koop om water warm te maak en te kook,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: Die Eskom-kragstasie naby die Universiteit van die Vrystaat, Qwaqwa-kampus
Beeldbron: Tladi Moloi