Razeen Gutta
Dit was die wedstryd van ‘n leeftyd op die grootste verhoog denkbaar, waar Lionel Messi en Argentinië kon koning kraai ten spyte van Kylian Mbappe se driekuns.
Ter geleentheid van die Fifa Wêreldbeker-eindstryd in Katar se Lusail Stadion, het die planeet ‘n vertoning gesien soos nooit vantevore nie.
Dit was Argentinië bowe als toe towenaar Messi sy span die voorsprong gegee, aangehits deur ‘n see van Suid-Amerikaanse blou – en dit binne ‘n bestek van net 23 minute.
Hierdie doel het hom die eerste speler ooit gemaak wat doele aangeteken het in die groepfase, laaste 16, kwarteindstryd, halfeindstryd en eindstryd van ‘n enkele toernooi.
Angel di Maria het dit 2-0 gemaak voor rustyd, en sodoende die 2018-wêreldkampioene in ‘n staat van skok gelaat.
Frankryk het ook in die derde kwart geen teenstand gebied nie, en kon vir die meerderheid van die tyd nie eers naby die opposisie se net kom nie.
Sake het ‘n Franse draai gemaak met 10 minute speeltyd oor, toe een van die wedstryd se beste spelers ‘n kans gekry het om die teiken te tref. Mbappe het een doel aangeteken en dit oomblikke later met ‘n tweede opgevolg – ‘n sublieme skoot om die telbord gelyk te maak.
Sokker is ‘n spel waar bordjies in ‘n oogwink verhang kan word, en binne 97 sekondes het die Wêreldbeker-eindstryd ‘n wilde ommeswaai beleef.
Frankryk het oorgeneem en die storielyn verander – maar in ekstra tyd het die beste speler van alle tye vir Argentinië terug op die telbord geplaas. Messi was op die regte plek op die regte tyd, en hierdie sou sekerlik sy glorie-oomblik wees.
Maar Mbappe het verseker dat daar nog een kinkel in die kabel sou wees. Die Fransman het slegs die tweede speler ooit geword wat ‘n driekuns in die Wêreldbeker-eindfase behaal het ná Engeland se Geoff Hurst in 1966; en so was die eindstryd in Katar bestem om deur strafdoele bepaal te word.
Mbappe het ‘n doel geskop gevolg deur een van Messi; maar ‘n ander held het verrys in die gedaante van Emiliano Martinez: die doelwagter het ‘n stokkie gesteek voor die pogings van Kingsley Coman en Aurelien Tchouameni, en sodoende Argentinië se goue weg gebaan.
Dus, na ‘n riller van 3-3, het dit 4-2 geëindig vir die Suid-Amerikaners met strafdoele wat vir Messi toegelaat het om uiteindelik sy hande te lê op sokker se grootste trofee.
Die beste speler om ooit ‘n sokkerveld te betree, behaal toe welverdiend die wêreld se grootste prys – en wat ‘n manier om dit te vermag!
Sy Paris Saint-Germain-spanmaat, Mbappe, het met die goue stewel-toekenning weggeloop nadat hy agt doele aangeteken het tydens die toernooi.
Op die foto hierbo: Lionel Messi se welverdiende vreugde
Beeldbron: @FifaWorldCup