Tembisa Hospitaal ongeskik vir pasiënte

Karabo Rammutla

‘n Skokvideo wat binne Tembisa Hospitaal geneem is, het die haglike toestande onthul wat pasiënte ondervind.

‘n Man wat op Donderdag sy kind hospitaal toe geneem het, was geskok toe hy sien hoe pasiënte in een saal op die vloer lê, omring deur vuil wasgoed en hope rommel.

Hy het toe die toneel verfilm.

In die video kan ‘n halfgeklede bejaarde pasiënt wat in ‘n handdoek toegedraai is op die vloer langs ‘n onopgemaakte bed gesien word. Hy word omring deur gebruikte koppies en vuil linne.

“Kyk hoe word ons mense gestoor. Gestoor. Ek mag dit ‘gestoor’ noem want jy kan nie op so ‘n plek bly of hier slaap nie,” sê die man vir die kamera terwyl hy die kamer van hoek tot kant afneem.

Aan die ander kant van die kamer versorg ‘n personneellid ‘n pasiënt in die bed.

Nadat hy op die video in kennis gestel is, het Gauteng premier Panyaza Lesufi gesê die situasie by Tembisa Hospitaal word aangespreek.

“LUR vir gesondheid en welstand Nomantu Nkomo-Ralehoko het die hospitaal besoek om aandag te gee aan hierdie onaanvaarbare situasie. Alles is uitgesorteer,” het hy gesê. Die LUR het die fasiliteit op Vrydag besoek.

Die premier het vereis dat koppe rol, en aan Nkomo-Ralehoko gevra “om gepaste stappe teen die leierskap van die hospitaal te neem”.

In ‘n verklaring het die Gautengse Departement van Gesondheid gesê daar was Donderdag ‘n tydperk waartydens Tembisa Hospitaal se ongevalle- en noodeenheid te veel pasiënte ontvang het. Om die druk te verlig is die oorlooparea, wat in die video gesien is, gebruik om die eenheid te ontlont.

“Die pasiënte in die video is geestesgesondheidsorggebruikers wat teruggeskuif is Ongevalle toe totdat daar beddens in die sale beskikbaar was. Die hospitaal is tans besig om ‘n opnamesaal te voltooi wat gebruik sal word om Ongevalle te ontlont,” lui die verklaring. .

Die departement het gesê die aanvraag na diens by Tembisa Hospitaal oorskry sy kapasiteit by verre.

“Tembisa is die enigste hospitaal in die noorde van Ekurhuleni en die fasiliteit wys geen pasiënte weg nie, selfs al is dit propvol.”

Die departement het bygevoeg dat dit Lesufi se aankondiging vroeër die week verwelkom, rakende die opening van ‘n nuwe hospitaal om Kempton Park Hospitaal te vervang.

Op die foto hierbo: Tembisa Hospitaal

Videobron: Abramjee