Zavela Makwabe
Toe ‘n 25-jarige toekomstige moeder by ‘n polisiestasie se deur instap, het offisier Sersant Khayakazi Jodwana nie kon raai dat sy oor minder as ses ure ‘n skreeuende babatjie in haar arms sou vashou nie.
Polisiebeamptes by New Brighton Polisiestasie in Gqeberha het Saterdag in die vroeë oggendure gehelp om ‘n babaseuntjie tydens beurtkrag die lewe in te bring.
Die jong ma van Plettenbergbaai het meer as 280 km van Mdantsane af gereis. Sy is op die stasie se drumpel afgelaai toe sy besef het dat sy in kraam verkeer, het die polisie gesê.
Sersant Jodwana het die ambulansdiens gekontak, maar dit het nie opgedaag nie.
Dit het stadig tot die beamptes begin deurdring dat die baba se veilige verlossing in hul hande sou wees.
Toe die baba gereed was om sy verskying te maak, het die beamptes op skof hul moue opgerol en komberse vir die ma bymekaargemaak.
Jodwana het ingetree, en met behulp van ‘n vrou wat toevallig by die stasie was, het sy die baba die wêreld in verwelkom.
Oomblikke later het die stasie se gange weerklink met die skreegeluidjies van ‘n gesonde babaseuntjie.
Beamptes het letterlik na die naaste hospitaal toe gehardloop om hulp te soek, en toe hul poging geen resultaat oplewer nie, het hulle ‘n polisievangwa na ‘n ander hospitaal gestuur om ‘n ambulans te ontbied.
“Die naelstring is toe geknip en die ma en baba is hospitaal toe geneem vir verdere behandeling en sorg,” volgens areapolisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu.
In die gees van die seisoen se welwillendheid het beamptes by die stasie onder mekaar geld ingesamel om aan die nuwe gesin te skenk.
“Dit is nie aldag dat ons polisiebeamptes voor sulke situasies te staan kom nie. Gegewe die omstandighede het hulle egter ‘n veilige geboorte verseker en daarin geslaag om die beangste moeder te kalmeer. Hulle het ook seker gemaak dat sy gemaklik is en dat die baba warm gehou is terwyl hulle vir professionele mediese bystand gewag het,” het distrikskommissaris Brigadier Ronald Koll gesê.
“Die welwillendheid wat die lede teenoor die burgerlike vrou aan die dag gelê het, is prysenswaardig.”
Op die foto hierbo: Sersant Khayakazi Jodwana met die nuwe ma en die baba
Beeldbron: SAPD