Prikkelpoeiers ‘n top treffer by ANC konferensie

Doreen Mokgolo

Die meeste smouse sê die verkoop van kos buite Nasrec, waar die 55ste ANC Nasionale Konferensie aan die gang is, bring nie veel wins nie.

Maar een man kom met moord weg, in terme van geldmaak.

Ndandu Makungo verkoop mpesu – ‘n tradisionele wellusprikkellaar wat van die violetboom gemaak word, en wat blykbaar prestasie in die kooi tot hoër hoogtes stoot.

Die wortel word in die son gedroog en fyngedruk. Dit word dan verdun in pap of mageu en deur beide mans en vroue geniet.

“Comrades het die poeier in groot maat gekoop sedert Donderdag toe die konferensie begin het, en party kom terug vir meer voorraad,” het Makungo gesê.

“Daar is lede wat skaam is om hul inkopies in die openbaar te maak. Hulle vra my om privaat te ontmoet om hul aankope te doen. Ek lewer selfs by gastehuise en hotelle af.”

Makungo het gesê hy kry dit reg om daagliks duisende rande te maak en hoop op meer verkope voor Dinsdag. Hy sê hy het nog nooit soveel geld gemaak sedert hy die poeier ‘n jaar gelede begin verkoop het nie. Hy hoop hy sal genoeg kan inbring om sy vyfkamerhuis te kan bou.

Maar diegene wat enigiets anders verkoop – byvoorbeeld kos – het gesê dat hulle nie veel wins maak in vergelyking met vorige konferensies nie.

Smous Annah Ndlovu het gesê die steun van afgevaardigdes het verminder omdat hulle heeldag lank in die konferensie betrokke is.

“Aan die einde van die besigheidsdag is ek genoop om van die kos aan nyaope-verslaafdes en hawelose mense in die gebied te gee,” het sy gesê.

“Comrades verkondig altyd hul steun vir klein besighede, maar hulle lei nie deur hul eie dade tydens die konferensie nie.”

Smouse wat party-ware verkoop, word ook geraak.

Nomasonto Zulu sê sedert die konferensie begin het, het sy slegs 10 T-hemde verkoop.

“Wie gaan by ons koop as afgevaardigdes die hele dag in geslote sessies vasgevang is?

“Ek het van my salaris gebruik in ‘n poging om meer geld te maak – genoeg om my kinders se skoolgeld in die nuwe jaar te betaal – maar nou is ek bang ek het dit gemors.”

Foto hierbo: Zanele Mbombo

Fotobron: Doreen Mokgolo