In wat slegs as ‘n bisarre voorval beskryf kan word, is ‘n tweejarige Ugandese seuntjie deur ‘n seekoei ingesluk – en toe spoeg die dier hom weer uit in een stuk.
Die seuntjie het buite sy huis gespeel toe die seekoei hom onverwags aangeval het. Daar word beweer dat dit die kind aan sy kop gegryp en die helfte van sy liggaam ingesluk het.
Dit het dapperheid geverg van ene Chrispas Bagonza, wat die vreemde voorval gesien en die seekoei met klippe gegooi het, om die dier te oortuig om die seun vry te laat.
Ugandese polisie sê die voorval het in April plaasgevind, maar is eers op 12 Desember aangemeld nadat ‘n video van die episode opgeduik het.
“Dit is die eerste van hierdie soort voorval, waar ‘n seekoei uit Lake Edward gedrentel en ‘n jong kind aangeval het,” het ‘n polisiewoordvoerder gesê.
Luidens ‘n berig deur die Daily Star is die seun na ‘n nabygeleë kliniek geneem voordat hy na ’n hospitaal oorgeplaas is vir behandeling. Hoewel dit nog onduidelik is watter beserings die kleintjie opgedoen het, is hy na bewering vir hondsdolheid ingeënt.
National Geographic beweer dat hierdie plantvreters mense slegs aanval as hulle bedreig voel. In Afrika is daar jaarliks ongeveer 500 sterftes aan die hande – of smoele – van seekoeie.
Hulle voeg by: “Die mannetjies kan aggressief word as hulle gevaar aanvoel.
“Moeders mag dalk aanval om hul kleintjies te beskerm. Alhoewel hulle soveel as vier ton weeg, kan hulle tot 20 myl per uur hardloop. Hul kake kan tot 180 grade wyd oopmaak en vasklem met ‘n krag 10 keer dié van menslike kake, en hul onderste hoektande kan meer as anderhalf voet lank word.”
Daar was egter niks wat die seekoei uitgelok het om die seuntjie aan te val nie.
Saamgestel deur Anita Dangazele
Op die foto hierbo: Die tweejarige seuntjie nadat hy die aanval oorleef het
Beeldbron: Verskaf