Phillip van Niekerk
Toe Marokko Portugal verslaan en so die eerste Afrika-nasie geword het om die Wêreldbeker-halfeindstryd te haal, het ondersteuners op die pawiljoen gekies om hul harte uit te stort in die trefferliedjie “Last Last” deur Nigerië se Burna Boy, van African Giant-faam.
Op daardie oomblik het die groot woestynverskansing tussen Noord- en “sub-Sahara” Afrika eensklaps verdwyn. Marokkane het verkies om as Afrikane te identifiseer.
Net soos sokker nasies aangryp en verenig, so het musiek die mag om ou werklikhede te oortref, nuwe gemeenskappe te smee en selfs sy stempel op ‘n speelstyl af te druk.
Samba word reeds lank geassosieer met die pronkery, die flair en die verruklikheid van Brasiliaanse sokker.
Musiek is so vervleg met die Wêreldbeker dat elkeen van die 32 deelnemende spanne in Katar vanjaar deur FIFA gevra is om ‘n liedjie te kies wat gespeel kon word wanneer hul span ‘n doel aanteken.
The Guardian koerant in Londen het al die titels beoordeel en Duitsland se “When We Stand Together” deur Nickelback as heel swakste verklaar – “‘n 10-jaar-oue liedjie deur daardie Kanadese rockgroep wat almal haat”.
Die koerant het Ghana se “Oofeetso” deur Sarkodie as die naaswenner uit 40 gerangskik en gesê die “Ghanese rapper bring sowaar die partytjie saam”.
Maar hulle het op ‘n tuistreffer as nommer een besluit met “One Kiss” deur Dua Lipa. Dis net jammer dat dit nie tydens die eindstryd gehoor sal word nie.
Die Wêreldbeker was ‘n geleentheid vir kunstenaars om hul eie ding te doen – en in hierdie geval het baie van Afrika se blinkste sterre hul musikale skeppings aan die grootse toernooi opgedra. Dit was ‘n fees van musiek.
Selfs al kom ‘n Latyns-Amerikaanse span, Argentinië, Sondag in die eindstryd teen ‘n Europese een, Frankryk, te staan, het Afrika reeds die Beker vir Beste Musiek gewen.
Aanhangers se gunstelinge – dié wat in oomblikke van groot drama en onvoorsiende glorie en pyn deur die stadion weergalm – sal die langste onthou sal word.
Wie kan ooit die tromme van Senegal vergeet, wat hul span tot die laaste 16 deurgedra het en selfs aanhou timmer het lank nadat Engeland die Leeus van Teranga verslaan het?
Die Marokkane was die wegbreekspan van Wêreldbeker 2022 en het ‘n historiese eerste vir beide die bevolkings van Arabië en Afrika behaal deur die voormalige koloniale moondhede van België, Spanje en Portugal te klop.
Dat hul aanhangers gekies het om daardie oomblik te vier met ‘n liedjie deur ‘n Nigeriese Afrobeats-fenomeen, was beide ‘n verklaring van Afrika-solidariteit en die vooruitsig van ‘n toekomstige uitdaging vir die oorheersing van Europese en Latyns-Amerikaanse sokker.
Op die foto hierbo: Marokkaanse aanhangers vier hul oorwinning oor Spanje deur “Last Last” te sing
Beeldbron: @247Updates