Meta vir miljarde gedagvaar oor aanvuur van Ethiopiese oorlog

Die sosialemediareus en Facebook-eienaar, Meta, word vir R35 miljard ($2 miljard) gedagvaar vir die aanhitsing van burgeroorlog in Ethiopië.

Meta is daarvan beskuldig dat dit haatlike en gewelddadige inhoud op die platform laat floreer het, wat aanvalle aangevuur het gedurende die twee jaar van die Tigray-oorlog, wat in November tot ‘n wapenstilstand gekom het.

Die saak is aanhangig gemaak deur Ethiopiese navorsers Abrham Meareg en Fisseha Tekle van Amnesty Internasionaal, saam met die Keniaanse menseregtegroep die Katiba-instituut, berig Reuters.

Die regtegroepe wil hê Meta moet ‘n fonds van $2 miljard vir slagoffers van haat op Facebook op die been bring, veranderinge aan die platform se algoritme maak, en meer plaaslike taal-moderators aanstel.

Meareg is die seun van Ethiopiese chemieprofessor Meareg Amare Abrha, wat in November deur gewapende mans op motorfietse huis toe gevolg is en doodgeskiet is.

Meareg het aan BBC gesê sy pa, wat ‘n bekende lid van die Tigray-gemeenskap was, is doodgeskiet nadat ‘n vlaag van disinformasie en haatspraak teen hom op Facebook versprei is.

“As Facebook net die verspreiding van haat gestop het en plasings behoorlik gemodereer het, sou my pa nog geleef het,” het hy gesê.

Facebook het in die verlede skadelike inhoud gemodereer. Byvoorbeeld, ‘n Facebook-plasing van November 2021 deur Eerste Minister Abiy Ahmed is daarvan beskuldig dat dit geweld aangehits het deur mense te vra om “rebelle te begrawe”. Ahmed se plasing is vinnig verwyder.

Meta het in ‘n blogpos gesê dat hy ‘n “omvattende strategie geïmplementeer het om mense in die land op ons platform te beveilig”.

Die maatskappy het ook gesê dat dit Ethiopië as ‘n “tydelike hoërisiko area” geklassifiseer het en dat stappe gedoen is om inhoud te modereer, insluitend die verwydering van plasings wat sy beleide oortree.

Saamgestel deur Kamogelo Olaitan

Op die foto bo: Betogings in Ethiopië

Beeldbron: BBC