Man hol vloedrivier binne

Karabo Rammutla

‘n Drawwer sterk aan in die hospitaal nadat hy ‘n oorstroomde rivier in Centurion, Tshwane, binnegehardloop het.

Dit is nog nie bekend of die man die water in sy pad vir ‘n rivier beskou het en of hy meegesleur is nie.

Inwoners het die owerhede gekontak toe hulle die man in die Hennopsrivier sien sukkel om uit te swem.

Die Tshwane-nooddienstedepartement se Charles Mabaso sê hulle het ‘n oproep ontvang waartydens berig is dat ‘n man gesien is waar hy dryf in die rivier by Die Hoewes in Centurion, naby die snelweg.

“Tshwane Vuur en Redding se Waterredding 762 en Engine 31 is onmiddellik na die gebied gestuur. ‘n Multi-dissiplinêre span van die plaaslike polisieforum, Gauteng EMS en Tshwane Nooddienste het daarin geslaag om die man te red wat op die toneel behandel en na die hospitaal vervoer is in ‘n stabiele toestand,” het Mabaso gesê.

Wetstoepassingsowerhede ondersoek hoe die man in die rivier beland het.

Die Centurion-gebied word elke reënseisoen oorstroom. Laagliggende brûe en paaie word soms heeltemal deur water bedek.

Met swaar reën wat steeds die meeste dele van die land teister, en stormwaterdreine wat versper word deur blare, rommel en hawelose mense se besittings, is oorstromings altyd in die pyplyn.

Mense beland wel van tyd tot tyd in die Hennopsrivier, maar meestal as gevolg van hul motors wat meegesleur word.

Op die foto hierbo: ‘n Drawwer het Dinsdagoggend in die Hennopsrivier beland

Fotobron: Tshwane-nooddienste