ANC raak van Carl Niehaus ontslae

Lungani Zungu

Carl Niehaus is uiteindelik deur die ANC geskors.

Dit is nadat die omstrede Niehaus skuldig bevind is aan ses aanklagte van wangedrag wat die party in oneer gebring het.

Die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) het gesê sy skorsing spruit uit opmerkings wat Niehaus gemaak het tydens die onrus in Kwa-Zulu-Natal wat in Julie 2021 vele lewens geëis het ná die arrestasie van sy bondgenoot, voormalige president Jacob Zuma.

Een van die opmerkings wat Niehaus in warm water laat beland het, lui: “Die uitspraak van die Konstitusionele Hof is ‘n verwringing van geregtigheid … die wet word selektief gebruik as ‘n instrument om politieke en faksiegevegte te bestry.”

Die opmerking is geag as oortreding van Reël 25 van die ANC-grondwet, het die NDK gesê.

‘n Brief gedateer 12 Desember en onderteken deur Ralph Mgijima, voorsitter van die ANC NDK, het Niehaus se lot bevestig.

“Terwyl die ANC baie verdraagsaam was teenoor verskillende sienings, is dit die verpligting van elke lid om te voldoen aan beleide en standpunte van die organisasie soos van tyd tot tyd deur die NUK verwoord,” lui die brief.

“Geen lid word daarvan vrygestel of toegelaat om ‘n houding in te neem wat hom of haar as groter as die organisasie definieer nie.”

Die NDK het gesê Niehaus het versuim om enige berou oor wangedrag te toon, wat die dissiplinêre komitee oortuig het “dat hy nie in staat is om gerehabiliteer te word nie”.

Niehaus het ‘n eenman betoging buite die Nasrec-lokaal gehou tydens die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) vergadering verlede week voor die naweek se verkiesingskonferensie, waatydens hy geëis het dat President Cyril Ramaphosa uittree.

Niehaus het die dissiplinêre komitee as ‘n kangaroehof bestempel en gesê hy het slegs op sosiale media van sy skorsing verneem.

“Dit is ‘n waansinnige besluit deur hierdie mense wat hulself die dissiplinêre komitee noem. Dit is onsinnig.”

Hy het Twitter gebruik om aan sy volgelinge te sê dat hy geappelleer het teen wat hy ‘n “klugtige uitdrukking” genoem het.

Op die foto hierbo: Carl Niehaus

Beeldbron: @niehaus_carl