ANC-hoofsweep waarsku LP’s wat rebellie wil opsweep

Lungani Zungu

ANC-hoofsweep Pemmy Majodina sê die party is bewus daarvan dat sommige van sy “agterbakse” LP’s beplan om Dinsdag te stem ten gunste van aanvaarding van die Phala Phala-verslag.

Sy het ‘n streng waarskuwing aan ANC-LP’s gerig wat beplan om te stem vir aanvaarding van die verslag – wat die weg kan baan om President Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

“Ons sal die sweep inlê op ons LP’s wat saam met opposisiepartye oor Phala Phala wil stem. Tydens ons NUK-vergadering verlede week het ons die opdrag gegee om vir die verslag se verwerping te stem. Ons boodskap aan agterbakse LP’s is dat ons sal afreken met enigiemand wat hiervan afwyk,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.

Van die 400 LP’s in die Nasionale Vergadering word die ANC verteenwoordig deur 230. Die LP’s sal Dinsdag stem oor die aanvaarding of verwerping van die Artikel 89 verslag, saamgestel deur ‘n onafhanklike paneel.

Die paneel, onder voorsitterskap van afgetrede regter Sandile Ngcobo, het bevind dat Ramaphosa moontlik moet rekenskap gee oor die beweerde verdoeseling van ‘n inbraak by sy Limpopo Phala Phala-plaas waar minstens $580 000 (R10.2 miljoen) gesteel is.

Majodina wou nie betrek word by die bekendmaking van name van LP’s wat na bewering beplan om die party aan te vat nie.

Scrolla.Africa verstaan ​​egter van binnekamer ANC-bronne dat Ramaphosa se vyande wat LP’s is – insluitende voormalige Noordwes-premier Supra Mahumapelo – glo ander gegriefde ANC-LP’s beywer om ten gunste van die verslag se aanvaarding te stem.

Toe hy oor dié bewering uitgevra is, het Mahumapelo gelag en onmiddellik afgelui.

Hy is bekend as hardnekkige ondersteuner van oudpresident Jacob Zuma, Ramaphosa se voorganger en aartsvyand, wat sedert sy dramatiese val in 2018 Ramaphosa se kop op ‘n bord wil hê.

Ramaphosa het kritiek uit vele oorde ontvang sedert die vrystelling van die Phala Phala-verslag sowat twee weke gelede.

Die verslag het geland voor vandeesweek se belangrike ANC-verkiesingskonferensie van Vrydag tot Maandag by Nasrec, Johannesburg, waar Ramaphosa sal veg om vas te klou aan sy posisie as partypresident vir ‘n tweede termyn.

Hy kom te staan teen die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize.

Ramaphosa het die verslag op hersiening geneem, en die saak moet nog by die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa

Fotobron: @Presidensie