LAATVAT MET LUCKY: ‘Het afrigters, maak nie saak hoe goed hulle is nie, ‘n vervaldatum nes spanspek op ‘n supermarkrak?’ wonder Lucky Maree.
In die filmbedryf word daar gesê jy’s net so goed soos jou laaste fliek. Jy is net so goed soos jou laaste geveg, sê hulle in boks. Jy is net so goed soos jou laaste wedren, sê hulle in Formule Een.
Beteken dit dat afrigters net so goed is soos hul laaste wedstryde?
Eddie Jones was ‘n geruime tyd op die rak terwyl hy links en regs gekritiseer is deur kenners en aanhangers van regoor die wêreld. As iemand gewonder het oor die gevoelens van Engelse rugbyondersteuners, het gebeure nadat die Springbokke die Rooi Roos aan vlarde geskeur het, geen twyfel gelaat nie. Toeskouers op Twickenham het die Engelse span soos ‘n bloeddorstige skare by ’n Romeinse kolosseum van die veld afgejou.
Tog, die dag toe hy afgedank is, het die Engelse skare, kundiges en sleutelbordkrygers soos een man verklaar dat “Engeland sopas sy suksesvolste afrigter ooit afgedank het”.
Suksesvolste ooit? Dit hang af van hoe jy jou somme maak. ‘n Suksesgraad van 73% vir die hele tydperk is so goed soos jy gaan kry, en om Engeland na die halfeindstryd in die 2019 Wêreldbekertoernooi te begelei, word deesdae as prestasie beskou.
Maar toe kom 2022 en die wiele val af – met ‘n yslike lawaai!
Engeland het drie wedstryde uit vyf in die Sesnasies-reeks verloor. In die Herfs Internasionale het hulle teen Australië, Argentinië en Suid-Afrika verloor en gelykop gespeel teen Nieu-Seeland. Treurig, in enigeiemand se boeke.
Sedert Eddie onder die bus gegooi is, loop die gerugte skielik dik, spesifiek dat hy diktatoriaal is.
“Die atmosfeer in die kleedkamer is giftig,” volgens sommige spelers (voorspelbaar).
‘n Veel minder drastiese voorbeeld van ‘n afrigter wat moontlik sy vervaldatum bereik het, is Neil Powell.
Vir tien glorieryke jare was hy die geliefde afrigter van die Blitsbokke. Toe bedank hy, en dalk ook net betyds.
Benewens die power statistieke van sy laaste paar wedstryde, was die manier waarop die Blitsbokke by die Olimpiese Spele vertoon het, en Suid-Afrika sy beste kans tot goud gekos het, niks minder as hartseer nie.
Toe kom Hongkong (asook ander toernooie) en uiteindelik die Kaapstadse Wêreldbeker, en ons moes heeltyd hoor hoe hulle beter sou vaar – maar dit het hulle nooit gedoen nie.
Toe Sandile Ngcobo oorneem, het die Blitsbokke wedstryde begin wen. Hoe vreemd dit ook al mag lyk, toe Neil Powell as direkteur by die Sharks oorneem, het dinge ook daar verbeter. Nou met Sean Everitt wat afgedank is (waarom weet ons nog nie mooi nie), het Powell ingetree as afrigter van die Haaie se topspan. Ons sal wel sien hoe dit uitwerk, maar sover lyk dinge goed.
Gerugte wil dit hê dat Eddie Jones die Amerikaanse Arende gaan afrig. Moenie verbaas wees as hy vir hulle doen wat hy vir Japan gedoen het nie.
Beteken dit dat afrigters bloot ‘n vervaldatum het? Supermarkte probeer nie die lewe van die spanspek op die rak verleng nie. Hulle verseker dit word voor die vervaldatum verkoop (of loop deur onder kliënte se skerp tonge).
Miskien moet rugby se toplande regoor die wêreld daardie werklikheid aanvaar en nie voor die versoeking swig om kontrakte te verleng nie. Miskien moet hulle dit ten minste minder skandelik maak vir afrigters om weg te loop – net voordat hulle vrot word.
Op die foto hierbo: Neil Powell, die Sharks se direkteur van rugby
Beeldbron: @RugbyBits