Trevor Noah deel spesiale dankie met swart Amerikaanse dames

Ná sewe jaar as aanbieder an The Daily Show het Trevor Noah Donderdagaand op emosionele trant afskeid geneem.

Die Suid-Afrikaanse komediant het in 2015 as gasheer van die gewilde program by Jon Stewart oorgeneem.

Toe die program na sy einde toe staan, het ‘n emosionele Noah vir laas vaarwel gewuif.

“Eerlikwaar, en mees belangrik, is ekaan  julle dank verskuldig,” het hy ter afsluiting gesê.

“Ek onthou toe ek met die program begin het, kon ons nie genoeg mense kry om die gehoor vol te maak nie. En dan kyk ek na vandag. Ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. Nooit nie. Elke sitplek wat ooit gevul is om te kyk na iets waarmee ek besig is, waardeer ek altyd, want ek weet daar’s ‘n leë sitplek reg agter dit.”

Wenkbroue is gelig toe Noah as nuwe gasheer aangekondig is, maar die sukses wat hy behaal het, bewys dat hy die regte man vir die rol was.

Noah het verduidelik dat as mense regtig meer oor die Verenigde State wou uitvind, hulle met swart vroue in die land moet praat.

“Ek sê altyd vir mense: ‘As jy werklik van Amerika wil leer, praat met swart vroue.’ Want anders as die res, kan swart vroue nie bekostig om rond te f*k en goed later uit te vind nie,” het Noah gesê.

Hy het ook verskeie swart vroue in sy lewe bedank wat hom help vorm het, en bygedra het tot sy huidige sukses.

Noah het sy afskeidstoespraak gesluit deur almal te bedank wat na die program gekyk het, selfs diegene wat dit nie geniet het nie.

“Ek is dankbaar aan elkeen van julle, dit was ‘n eer. Dankie,” het hy gesê.

Volgende op die 38-jarige se lys is ‘n uitstappie na Katar om die laaste paar wedstryde van die Wêreldbeker-toernooi te kyk.

Noah kom daarna terug Suid-Afrika toe om die feestyd tuis saam met familie deur te bring voordat hy op sy Off the Record-komediewêreldtoer vertrek.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Trevor Noah tydens sy laaste program

Beeldbron: @EntertainmentWeekly